Niemand nog vas ná aanval op Hoedspruit-plaas

Argieffoto

Die polisie op Hoedspruit probeer nog die presiese verloop van gebeure vasstel ná ʼn man ʼn week gelede op ʼn wildsplaas daar oorval en verskeie kere met ʼn mes gesteek is.

Kol. Moatshe Ngoepe, polisiewoordvoerder in Limpopo, het gesê die 45-jarige man het op 9 Mei omstreeks 16:00 gaan ondersoek instel nadat hy inligting oor moontlike stropery ontvang het. Hy is klaarblyklik ʼn werker op die plaas.

“Sy kollegas het hom later in die hande probeer kry, maar kon hom nêrens vind nie. Hulle het op die plaas na hom begin soek en hom later gekry waar hy in ʼn plas bloed gelê het. Hy het verskeie steekwonde gehad en is dadelik na ʼn hospitaal geneem vir mediese behandeling,” het Ngoepe gesê.

Hy het gesê die man is steeds in ʼn ernstige maar bestendige toestand in ʼn hospitaal.

Volgens die voorlopige polisie-ondersoek is niks op die plaas gestroop nie en die aanvallers het niks by die slagoffer gebuit nie.

Ngoepe het gesê die polisie is steeds besig met ʼn reusesoektog na die aanvaller of aanvallers en het ʼn beroep gedoen op lede van die publiek wat inligting het om vorendag te kom. Die Hoedspruit-polisie ondersoek ʼn saak van poging tot moord.

Enigeen met inligting oor die saak kan kapt. Cobra Moriri by 082 573 4773 kontak, die Stop Misdaad-nommer by 08600 10111 bel, ʼn SMS stuur na 32211 of die inligting by hulle naaste polisiekantoor aanmeld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Deadman Walking ·

Loof n belonging uit vir inligting! Geld laat mense praat.

Michelle ·

Is nou Cele se beurt om uit te gaan daar is mos nie mense wat op.plase aangeval word nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.