Niemand nog vas ná apteek-skietery

Foto: News, Accidents, Robberies & Incidents op Facebook.

Niemand is nog in hegtenis geneem nadat ʼn man Maandagaand buite die bekende M-kem-apteek in Bellville in die Wes-Kaap verskeie kere in die been geskiet is nie.

Die apteek is onder plaaslike inwoners bekend aangesien dit heeljaar 24 uur per dag oop is.

Marius Nieuwoudt, bedryfsbestuurder van dié apteek, het aan Maroela Media gesê Frikkie Marais was omstreeks 21:15 by die apteek se kitstoonbank om medisyne te kry. “Soos ons verstaan, het hy na sy motor toe geloop en het die verdagtes hom ingewag. Daar het ʼn struweling ontstaan en hy is verskeie kere in die bo- en onderbeen geskiet.”

Volgens Nieuwoudt het die apteek voltydse veiligheidspersoneel aan diens wat onmiddellik die draaideure tussen die parkeerterrein en die apteek gesluit het. Hulle het ook al die klante en personeel uit die onmiddellike omgewing verwyder en die polisie gebel.

“Hulle het toe, hoewel hulle nie geweet het of die verdagtes al weg is nie, uitgegaan en die man bygestaan. Van ons noodpersoneel en verpleegsters aan diens het hom ook bygestaan tot die polisie en nooddiensbeamptes opgedaag het. Ek moet sê ek is baie trots op my mense, die polisie en nooddienste, hulle was regtig baie vinnig op die toneel,” het Nieuwoudt gesê.

Volgens Nieuwoudt is Marais vermoedelik in sy 50’s.

Foto: News, Accidents, Robberies & Incidents op Facebook.

Kapt. FC van Wyk, woordvoerder van die polisie, het die voorval aan Maroela Media bevestig. Hy het gesê een van die verdagtes het die slagoffer se motorsleutels geëis en toe hy weier om dit te oorhandig, het hulle hom uit sy voertuig geruk. “Die verdagte met die vuurwapen het die slagoffer in die regterbeen geskiet,” het Van Wyk gesê.

Volgens Van Wyk het die verdagtes die motor probeer steel, maar kon dit nie aangeskakel kry nie. Hulle het hulle daarna uit die voete gemaak.

ʼn Saak van poging tot kaping en poging tot moord word ondersoek.

Enigiemand met inligting oor die voorval kan die polisie by 0860 010 111 bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Francois le Cochon ·

Ek vermy alle kitsbanke, en trek net geld by supermarkte se tille.

Trappies ·

Francois
Gaan lees die berig weer mooi. ‘Kitstoonbank’ en nie kits bank nie.

Uvonka ·

Dalk moet die Gauteng SAP lede by die Wes-Kaapse SAP lede iets gaan leer. As iemand in die been geskiet word, is dit poging tot moord maar as ‘n 82 jarige dame verskeie kere in haar nek gesteek word, is dit nie, hoe dan nou?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.