Niemand nog vas ná moord op Lindley-boer

Christian van Tonder, ‘n jong Vrystaatse boer, is in Gauteng doodgeskiet. (Foto: Facebook)

Niemand is nog in hegtenis geneem in verband met die moord op ʼn jong boer van Lindley in die Vrystaat wie se liggaam Maandagaand in die Barrage-omgewing in Gauteng gevind is nie.

Christian van Tonder (29) is glo ʼn enkele keer geskiet.

Sers. Nombulelo Mohlakoana, polisiewoordvoerder, sê ʼn lid van die polisie se misdaadintelligensie-eenheid het op die jong boer se liggaam afgekom en die polisie ontbied. Van Tonder was nog in sy bakkie en sy selfoon is op die toneel gevind.

Van Tonder het vroeër vir Jaco Botha, ʼn veeaankoper, vir ʼn sakevergadering in die omgewing  ontmoet. Mohlakoana sê volgens Botha het hy Van Tonder ná 17:00 die laaste keer lewend gesien.

Van Tonder, ʼn derde geslag- boer, het in die Oos-Vrystaat met Drakensberger-beeste geboer en het die boerdery ná die dood by sy pa, Colyn, oorgeneem.

Van Tonder word ook oorleef deur sy ma, Risa, en suster, Elsari Cronjé.

Die moord het opnuut skokgolwe deur die Vrystaatse boerderygemeenskap gestuur en kom kort ná die dood van Johan Prinsloo (73), ʼn boer in die Koppies-distrik.

Prinsloo is gisteroggend op sy kleinhoewe doodgeskiet nadat ʼn gewapende man op hom en sy plaaswerkers losgebrand het. Prinsloo het op die toneel gesterf.

In nog ʼn voorval is ʼn gesin ook Maandagoggend op hul plaas naby Bothaville oorval en beroof.

Die aanvallers is die plaashuis binne waar hulle Willie Coetzer (29), sy vrou, Elé (29), sy skoonpa, Gottlieb Venter (59), en ʼn huiswerker oorval het. Die egpaar se babadogtertjie was ook in die huis.

Twee van die vermeende aanvallers is reeds aangekeer.

Jan van Niekerk, VF Plus-leier in die Vrystaat, sê die aanvalle maak dit opnuut duidelik dat landelike beveiliging nie ʼn prioriteit vir die ANC-regering is nie.

“Om hierdie soort misdaad te bekamp is dit belangrik dat die polisie se landelike beveiligingsplan doeltreffend in werking gestel word en polisiestasies met die nodige hulpbronne toegerus word.”

Die party het opnuut ʼn beroep op boere en landelike gemeenskappe gedoen om self veiligheidsmaatreëls te tref.

“Die party sal waar moontlik hulp verleen om die skuldiges op te spoor om toe te sien dat geregtigheid vir die slagoffers geskied.

“Die VF Plus spreek sy innige meegevoel uit met die slagoffers se familie en geliefdes en wens die Venter-gesin ʼn spoedige herstel toe,” sê Van Niekerk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Swerwer ·

Landelikse veiligheid sal nooit ‘n prioriteit vir die ANC wees of word nie want hul sit daar agter.

Vernon ·

Stem,hulle verwelkom die dood van boere..want dis wraak en jaloesie.

Manda ·

Wat van ‘n private vervolgingseenheid net vir plaasaanvalle? Ek is seker befondsing kan gedryf word op een of ander manier?

Vernon ·

Wit werklose mense kan vir verblyf en kos op die boer se plaas bly en help om die boer te beveilig. Stem met jou.

Jannie van Niekerk ·

Dis hoog tyd dat Rampspoedphosa erken dat daar plaasmoorde in SA is en dat ‘n veel erger en groter pandemie as Covid is.

Skappie ·

Elke dag lees ons van berugte van boere wat aangeval, of vermoor word. Wanneer gaan ons regering iets begin doen? Dit is lewwens wat geneem word, mense wat aan ons kos voorsien. Sterkte aan elke gesin, familielid, en vriende van die mense wat vermoor of aangeval is. Mag onse Liewe Heer julle styf vas hou in sy arms, deur hierdie moeilike tye. Mag ons regering hulle oogklappe afhaal, sodat daar strenger opgetree word aan die misdadegers.

Suzette ·

Ongelukkig is die misdadigers die regering se “our people” en dink ek nie enige poging sal aangewend word om hulle te vervolg nie. Daar is tot dusver nog niks gedoen nie en hoeveel onskuldige mense het al gesterf – dan ontken die president dat daar iets soos plaasmoorde is…. Regtig???

Belinda ·

Hulle plaas sulke gevalle laaste op die lys. ek wonder net as die boer n ander kleur was of dit dan top of priority sou wees?..

SjN ·

word daar ook n onmiddelike gebeurlikheidsplan geimplimenteer deur die Sapd? Sterkte aan sy geliefdes.

Toy ·

Ai hoekom hom skiet, dit is so sinneloos. Here wees ons mense genadig asb.

Mariana ·

3 gevalle, 2 moorde in 3 dae en dit is nie vir die regering ‘n krisis nie. Nee hulle meer bekommerd oor hul eie beursies en hoe hulle dit kan vol hou. Hoeveel van ons boere moet nog afgemaai word voor daar daadwerklik iets gedoen word? Of is dit ook maar net deel van hulle plan om SA tot niet te maak.

Jannie van Niekerk ·

Jy klink soos Rampspoedphosa wat oorsee sê: “Daar is nie iets soos plaasmoorde in SA nie.” Skrik wakker my vriend. Jy het duielik nog nie famiieiede afgestaan agv plaasmmorde nie.

Piet ·

Ek stem saam. Dit is nie ‘n plaasmoord nie. Dit is boere wat vermoor word.

Porseleintjie ·

Die dossier le ook ek stof vergader, want niks sal gedoen word nie. Troos my aan een ding. Al die onskuldige bloed wat vergiet is roep na God vanaf die aarde, net soos Abel sn. Hy sal vergeld.

Antoinette ·

Wat ‘n pragtige jongman. Elke dag word pragtige mense van alle rasse genadeloos uitgemoor. Dit moet end kry maar die regering is te flippen nutteloos. Ek hoop die 10 000 nuwe rekrute beplan vir vlg jaar sal behoorlike opgelei word-soos in die goeie ou dae toe daar orde was.

Jacobus ·

Hoop in jou een hand en spoeg in jou ander hand, dan kyk jy watter hand het die meeste in. Niks sal verander onder hierdie kommuniste nie.

Papsak ·

Ag weet jy ek wil liewers niks se nie ek kan dit nie vat nie ons moor en roof nie our people so uit nie hoekom moet hulle met ons dit doen hulle verseker dat hulle ons so sal uit wis

madels ·

Hemel, kan hulle nie sien dat hierdie absolute oorlog is teen die boere nie!!!?? Die feit dat diefstal nie eers betrokke is nie maar hierdie boer net koelbloedig vermoor is, wys dit mos nou duidelik

Marinda ·

Soe dis werklik hartseer. Eintlik hartverskeurend. Kan nie help om woedend te word nie. Daar is vergifnis maar … maar… Ek dink ons het nou genoeg vergewe. Ek wonder maar net: Was die sg polisiemanne nie ook betrokke nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.