Niemand nog vas ná motorfietsryer sterf

Mogomotsi Moerane. Foto: Verskaf

Mogomotsi Moerane. Foto: Verskaf

Niemand is nog in hegtenis geneem in verband met die botsing in Moreletapark, Pretoria, waarin ʼn motorfietsryer dood is en waarby ʼn TV-persoonlikheid glo betrokke was nie.

Kapt. Coba Brits, woordvoerder van die polisie, het Maandag aan Maroela Media gesê ʼn saak van strafbare manslag word ondersoek, maar niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Die ongeluk het Donderdagaand gebeur toe ʼn motor na bewering ʼn rooi verkeerslig verontagsaam en voor Mogomotsi Moerane (31), wat op sy motorfiets was, ingedraai het. Moerane se motorfiets het die motor glo teen die kant getref en omgeslaan. Hy is op die toneel dood.

Brits wou nie spekuleer oor die identiteit van die motorbestuurder nie, alhoewel daar wyd beweer word dit is Nape Phasha, die seun van die Phasha-familie in  ʼn gewilde televisie-werklikheidsreeks, Vuzu Rich Kids.

Kobie Delport, ʼn ooggetuie van die ongeluk, het aan Maroela Media gesê hy was op die toneel toe die bestuurder van die motor se pa op die toneel opgedaag het. “Ek het hom dadelik herken as die pa van die Phasha-familie in Vuzu Rich Kids,” het hy gesê. Volgens Delport is Nape en sy pa by die ongelukstoneel weg voordat die polisie opgedaag het.

Brits het egter ontken dat die bestuurder van die motor die ongelukstoneel verlaat het voordat die polisie opgedaag het.

Nape Phasha. Foto: Instagram

Nape Phasha. Foto: Instagram

Delport het Maandag gesê hy sou Dinsdag sy verklaring by die polisie gaan aflê. “Ek weet twee ander ooggetuies sal vandag hul polisieverklarings aflê,” het hy gesê.

Nape het Vrydag op sy Twitter-profiel gesê die bewerings van die botsing is nie waar nie en hy sal binnekort ʼn verklaring uitreik in die verband. Die verklaring is egter nog nie uitgereik nie.

Intussen het motorfietsryers van Pretoria Sondag by die ongelukstoneel bymekaargekom om Moerane te gedenk. Die byeenkoms is deur ʼn motorfietsgroep in die ooste georganiseer wat graag die lewe van ʼn mede-motorfietsryer wou herdenk, ten spyte daarvan dat hulle hom nie geken het nie. Die motorfietsryers het blomme op die toneel neergesit en saam gebid.

Moerane se broer, Keabetswe (29), was ook by die byeenkoms. Hy het gesê sy broer het sy lewe voluit en volgens sy eie oortuigings geleef. “Hy sal onthou word as die een wat balans aan die familie gegee het. ʼn Man wat sy ma en sy familie só liefgehad het en ʼn pilaar vir ons almal was.” Moerane was ʼn IT-konsultant en het in Pretoria gewoon.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Lee ·

Dis so tragies! RIP Mogomotsi! Nog so jonk. Sterkte aan die ouers en familie!

Nina ·

Wat ‘n skande dat als alreeds so toegesmeer word…SIES! Sekerlik moet die drywer se naam bekend wees? Hoe anders kan klagte van strafbare manslag ondersoek word? Nee, magtig. Ons is nie onnosel nie! Nog ‘n ‘spoilt brat’ en pappie se geld….

Morne ·

Ek bly in die estate waar Nape woon en mense wat ek ken wat saam hom in skool was het uitgevaar die naweek teen sy arrogante gedrag, natuurlik het nape se ouers vir hom n penthouse gekoop in sandton na matriek met n swart A-klas mercedes en die beste Tageuer horlosie, hys blatant en het n houding asof hy die wereld besit, jou mede skoliere dink niks van jou nie Nape, jys n brat en jy moet boet vir jou optrede, pappa se geld maak jou nie verhewe bo die wet nie!

pop ·

Nouja as die meneer dan gewag het vir die polisie hoekom ondersoek hulle dit nog. Hy moes dan net daar op die toneel agter in vangwa beland het. En dan weet die polisie in elk geval presies wie hy is!!Kapt Brits jy maak nie sin nie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.