Niemand nog vas ná roof by Bloem-winkelsentrum

Argieffoto

Argieffoto

Niemand is nog in hegtenis geneem nadat ʼn gewapende roof Vrydagaand by ʼn winkelsentrum in Bloemfontein uitgevoer en ʼn polisiebeampte geskiet is nie.

“Die verdagtes is steeds soek, maar die ondersoek duur voort,” het kapt. Harry Nagel, polisiewoordvoerder, Maandag aan Maroela Media gesê.

Maroela Media het Sondag berig ʼn groep van tussen ses en 11 gewapende rowers het Vrydag omstreeks 19:00 op Shoprite in die Twin City-winkelsentrum in Heidedal toegesak.

“Die mans het die winkel ingestorm en geld geëis. Hulle was gewapen met lang gewere en pistole en het ook klapmusse gedra,” het Nagel gesê.

Die rowers het ʼn onbekende bedrag geld gevat, waarna hulle duur drank by ʼn drankwinkel gesteel het.

Een groep het in ʼn Nissan-bakkie gevlug. Hulle is egter by die uitgang deur die polisie, wat op ʼn noodoproep gereageer het, voorgekeer. Die verdagtes het op die polisie losgebrand en een polisiebeampte is in sy hand gewond. Die rowers het ook die brandstoftenk van die polisiemotor raakgeskiet, wat veroorsaak het dat die polisie hulle nie kon agternasit nie.

Die tweede groep rowers het ʼn Toyota RunX met ʼn vrou en haar dogter in die motor voor die winkelsentrum gekaap. Hulle het die dogter by die uitgang van die sentrum afgelaai en die vrou by die Pelonomi-hospitaal.

“Die vrou is beseer, maar ons is in hierdie stadium nie seker of sy tydens die rooftog of tydens die kaping beseer is nie,” het Nagel gesê. Hy het gesê die RunX sowel as die Nissan-bakkie is later verlate gevind, onderskeidelik in Batho en in Ooseinde.

Die polisie ondersoek aanklagte van sakeroof, kaping en poging tot moord.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Boesman ·

Verbeel ek my, of is misdaad buite beheer in Bloemfontein?

Pietertjie ·

Daar is net twee plekke in Suid Afrika waar misdaad buite beheer is: binne Bloemfontein, en oral buite Bloemfontein…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.