Niemand nog vas ná rugby-aanval

Matthew Germishuizen ná sy operasie. Foto: Verskaf

Matthew Germishuizen ná sy operasie. Foto: Verskaf

Die polisie het bevestig dat niemand nog in hegtenis geneem is in verband met die aanval op Matthew Germishuizen (17) nie.

Germishuizen is Saterdag tydens ʼn klubrugbywedstryd in Johannesburg glo deur ʼn teenstander se pa aangerand.

Kaptein Disebo Selepe, ʼn polisiewoordvoerder, het aan Maroela Media bevestig ʼn saak van aanranding met die doel om ernstig te beseer word deur die polisie ondersoek. “Die voorval is by die Alberton-polisiestasie aangemeld, maar dit is na die Florida-polisiestasie oorgeplaas vir verdere ondersoek, aangesien die voorval in dié area plaasgevind het,” het Selepe gesê.

Sy sê die polisie is nog besig om verklarings van die slagoffer en ooggetuies af te neem.

Maroela Media het Woensdag berig dat Matthew vir vier dae lank in die Unie-hospitaal in Alberton moes spandeer nadat hy Saterdag omstreeks 11:30 tydens ʼn klubrugbywedstryd in Florida aangerand is.

Matthew is ʼn gr. 11-leerling aan die King Edward VII School (KES) en speel vir die Germiston Simmer-rugbyklub se o.18-span. Hulle het teen ʼn span van die Roodepoort-rugbyklub gespeel.

Na wat verneem word, het die skeidsregter glo ʼn speler van Roodepoort vir ʼn oortreding gestraf. Die speler het kapsie gemaak en met die skeidsregter gestry, waarna die speler ʼn rooikaart gekry het. Die speler se pa het daarop aangedring dat die rooikaart teruggetrek word. Die skeidsregter het die eindfluitjie geblaas voor die tyd verstreke was.

Matthew het glo sy hande omhoog gegooi, aangesien hulle gewen het, waarna die seun wat die rooikaart gekry het, op hom afgestorm en hom met die vuis geslaan het. Daar was ‘n onderonsie waartydens die seun se pa glo ook vir Matthew aangerand het.

Matthew het harsingskudding opgedoen en sy neus en linkeroogkas is gebreek. Hy is Dinsdag geopereer om sy gebreekte neus te herstel, waarna hy ontslaan is. Hy sterk by die huis aan.

Lees ook:
Ouer rand glo tiener tydens rugbywedstryd aan

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Ai tog ·

Duidelik weet jy maar min van polisie ondersoek werk af, jy kry eers genoegsame getuienis voordat jy arresteer en nie andersom nie

Theresa ·

Ek hoop iemand gee die pa weg. Dis darem swak. Ek sal my kop in skaamte sak as jy my pa is jou vark. Jy is veronderstel om ‘n groot man te wees en hierdie bly nog ‘n kind. En dis ander mense se kind.

Adri ·

Huh ek stem saam jou my seun is beroof en polisie wou ni eers dat ons n saak maak ni gaan lees dis ook gister op maroela media gesit! Onder polisie bedreig jongman met moordslenter!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.