Niemand nog vas ná skietery by kuierplek

Schivas Rock (6 Desember 2016) Foto: Facebook

Schivas Rock (6 Desember 2016) Foto: Facebook

Niemand is nog in hegtenis geneem in verband met die skietery Dinsdag by ʼn gewilde kuierplek in die ooste van Pretoria waartydens ʼn pa en sy dogter gewond is nie.

André de Almeida (48), die eienaar van die kuierplek Schivas Rock in Lynnwood, en sy dogter, Claudia (21), is omstreeks 10:20 deur twee gewapende mans in die kombuis van hul familieonderneming geskiet en gewond.

De Almeida is in die linkerbors getref en Claudia in die gesig. Claudia kon self na die ambulans loop en is in ʼn stabiele toestand na ʼn nabygeleë hospitaal geneem.

De Almeida het kritieke beserings opgedoen. ʼn Dokter en traumasuster van omliggende praktyke asook paramedici van Advanced Paramedic Assist het nagenoeg ʼn uur lank gespook om sy lewe te red. Hy is in ʼn bedenklike toestand na ʼn nabygeleë hospitaal geneem.

Graeme Clayton, geleentheidskoördineerder by Schivas, het Donderdag aan Maroela Media gesê volgens die jongste inligting wat hy van Silvia, De Almeida se vrou, ontvang het, is De Almeida se toestand stabiel en lyk sy prognose goed. “Claudia is baie gelukkig, want die koeël het al die hoofare in haar nek gemis toe die koeël daar uit is. Dit lyk amper nes ʼn skraapwond,” het Clayton gesê.

Silvia en Loudres, hul jongste dogter, was in die kantoor tydens die skietvoorval en is nie beseer nie.

Dit wil nie voorkom of iets tydens die voorval geroof is nie. Die verdagtes het in ʼn silwerkleurige Golf 7 van die toneel gevlug.

Kapt. Daniel Mavimbela, polisiewoordvoerder, het aan Maroela Media bevestig niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie, maar die ondersoek duur onverpoos voort.

“Die motief vir die voorval is nog onbekend. Die polisie volg alle leidrade op en die soektog na die skieters duur voort,” het Mavimbela gesê.

Die Brooklyn-polisiestasie ondersoek twee sake van poging tot moord.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

jaco ·

dis mos maar net wit mense wat dood is, so waarom moet die polisie nou moeite doen om die moordenaars te vang?

Inge ·

Jaco, die mense is nie dood nie, gelukkig nie, maar ek dink daar is iets dieper aan die gang hier. Ek dink nie dit gaan oor kleur nie maar meer wraak.

Raai Raai ·

Al die moorde wat nou gepleeg word kan net voor Juluis Mahlema se deur gevee word, want met sy sogenaamde toesprake vertel hy ons, ons beurt kom, ons moet nie te gerus wees nie. Hy por dit so aan hy is so geslepe en onderduims. Juju ek is bly ek is nie jy wat voor die Regter moet staan en rekenskap gee nie. Jou hande mag dalk skoon wees, jy is slim breinspoel jou navolgers en hulle doen jou vuilwerk

Inge ·

Ek stem Raai Raai, alhoewel ek dink nie dit is op hierdie berig van toepassing nie. Die beste is hulle volg hom soos skape. Hoe kan mens so blind wees? Dink hulle regtig dit gaan beter wees sonder ons? Die land gaan nog erger af wees.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.