Niemand nog vas ná student se dood

Amanda Lightfoot (Foto: Prestige International Training Academy/Facebook)

Die polisie is op die spoor van die moordenaar wat verantwoordelik is vir die dood van ’n student in grimeerkuns van Boksburg aan die Oos-Rand. Die moord het verlede week helder oordag plaasgevind toe die student in haar geparkeerde motor in Benoni gesit het.

Nog geen inhegtenisneming is intussen gemaak nie, sê lt.kol. Mavela Masondo, Gautengse polisiewoordvoerder.

Amanda Lightfoot (18) het verlede Donderdag in haar stilstaande motor gesit toe ’n onbekende man haar genader het. Die man het ’n skerp voorwerp uitgepluk en Lightfoot daarmee in haar bolyf gesteek.

Sy is glo op pad hospitaal toe dood.

Lightfoot het ten tyde van haar dood aan die Prestige International Training Academy studeer.

“Amanda het met haar humor ʼn pragtige, borrelende energie tot ons akademie gevoeg en ons mis haar innig,” het die akademie vandeesweek op Facebook gesê.

Masondo het Vrydag by navraag aan Maroela Media gesê die motief vir die moord is in dié stadium nog onbekend.

Die polisie het nie enige verdere inligting rakende die moord bekend gemaak nie, maar wel ’n beroep op die publiek gedoen om enige inligting omtrent die moord of die moordenaar by hul naaste polisiestasie of die Stop Misdaadnommer by 08600 10111 aan te meld.

Amanda Lightfoot (Foto: Prestige International Training Academy/Facebook)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.