Niemand nog vas vir bekende wynboer se skietdood

John Barnes. Foto: Verskaf.

John Barnes. Foto: Verskaf.

Niemand is nog in hegtenis geneem in verband met die skietdood van John Barnes (66), ʼn bekende wynboer wie se liggaam langs dié van sy hond in sy gastehuis op ʼn kleinhoewe buite Plettenbergbaai in die Wes-Kaap aangetref is, nie.

Maroela Media het vroeër berig die polisie het ʼn aansienlike beloning uitgeloof vir inligting wat kan lei tot die inhegtenisneming van ʼn verdagte of verdagtes wat Barnes Vrydagoggend in sy huis saam met sy hond doodgeskiet het.

Kapt. Malcolm Pojie, polisiewoordvoerder, het vroeër gesê Barnes se vrou, Elizabeth, het omstreeks 04:00 glo ʼn worsteling in die huis gehoor.

“Sy het gaan ondersoek instel en haar man se liggaam langs sy hond in ʼn ander kamer aangetref. Barnes is twee keer in sy bolyf geskiet en die hond is ook verskeie kere geskiet. Hy is op die toneel dood verklaar,” het Pojie gesê.

Voorlopige ondersoek het geen teken van geforseerde toegang tot die huis gevind nie. Daar was ook geen spoor van ʼn verdagte of verdagtes nie, en daar is glo niks uit die huis vermis nie.

Pojie het Woensdag aan Maroela Media gesê ʼn nadoodse ondersoek is intussen gedoen en die uitslae sal na verwagting Donderdag beskikbaar wees. “Intussen gaan die ondersoek voort en word alle leidrade opgevolg,” het hy gesê.

Rory Buckley (37), Barnes se susterskind wat medianavrae hanteer, het intussen aan Maroela Media gesê begrafnisreëlings is nog nie getref nie aangesien die polisie se ondersoek steeds voortduur. “Ons hoop om binnekort ʼn gedenkdiens vir hom op sy familiewynplaas, Mischa naby Wellington, te hou,” het Buckley gesê.

Buckley het verduidelik dat Barnes en Elizabeth aan die begin van die jaar na Wittedrift verhuis het waar hulle ʼn gastehuis op ʼn kleinhoewe bedryf het. Daar is ʼn hoofhuis op die perseel met kleiner huisies waar gaste kan oornag.

Sy drie seuns, Andrew, Gary en Shaun, het bedrywighede op die wynplaas oorgeneem.

“Oom John was ʼn wynboer vir die grootste deel van sy lewe. Sy ouers het Mischa sowat 65 jaar gelede gekoop en hy het die plaas in sy 20’s oorgeneem,” het Buckley gesê. “Sedert hy oorgeneem het, het hy ʼn baie suksesvolle stokkies-besigheid op die been gebring en Mischa het bekend in die wynbedryf geword vir die gehalte van sy stokkies asook my oom se charismaties en sjarmante geaardheid.”

Barnes het in die laat 90’s besluit om ʼn wynbesigheid op die been te bring en die vlagskipwyne, Mischa en Eventide, is vir die eerste keer in 1999 gebottel. “Die wynbesigheid het baie gegroei en het al verskeie toekennings gewen.”

Hy het gesê almal sal Barnes onthou as ʼn warmhartige en liefdevolle persoon. “Niks was ooit vir hom te veel moeite nie en hy het mildelik geskenk sonder om enigiets in ruil te vra. Hy het die lewe ten volle geniet. As ʼn boer en sakeman was hy baie toegewyd en gedrewe, maar terselfdertyd was hy ʼn ware familieman. Sy familie was baie belangrik vir hom en ons is ʼn hegte familie.”

Barnes was ook baie lief vir sport en houtwerk.

Buckley het gesê die familie wil nie spekuleer oor die motief van die moord nie aangesien die polisie se ondersoek steeds voortduur. “Wat ons wel kan sê is wat ook al die rede vir die aanval was, dat sinnelose geweld ʼn rol speel en dat dit iets is waaraan die regering dringend moet aandag gee. Dit gebeur al hoe meer in Suid-Afrika en mense voel nie meer veilig in hul huise nie.”

Pojie het ʼn beroep op die publiek gedoen om met enige inligting na vore te kom wat die polisie in hul ondersoek kan bystaan. Mense met inligting kan die ondersoekbeampte, ao. John Nomdu, bel by 044 501 1900 of 072 239 3298. Die grootte van die beloning sal bepaal word deur die aard van die inligting wat ontvang word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.