Niemand nog vas vir Kenton-on-Sea-moord

Kenton on Sea (Foto: kenton.co.za via NSRI)

Niemand is nog in hegtenis geneem vir die moord op die middeljarige man wie se liggaam vroeër vandeesweek in sy huis in Kenton-on-Sea in die Oos-Kaap aangetref is nie.

Kapt. Mali Govender, woordvoerder van die polisie, het die man as Johannes Petrus van der Merwe geïdentifiseer. Hy was 54 jaar oud.

Maroela Media het vroeër berig ʼn familielid het Van der Merwe Maandagoggend per telefoon probeer bereik. Hy het ten tyde van die moord alleen gewoon.

“Toe die oorledene nie die familielid se oproepe antwoord nie, het hy besluit om na die oorledene se huis te gaan, waar hy die skokkende ontdekking gemaak het,” het Govender voorheen gesê. Van der Merwe was glo vasgebind.

Volgens Govender het die voor- en agterdeur van die huis oopgestaan en was daar geen aanduiding dat iemand gedwonge toegang tot die huis verkry het nie. Dit lyk ook nie of iets uit die huis gesteel is nie.

Govender het vanoggend aan Maroela Media gesê die oorsaak van die man se dood vorm deel van die moordondersoek en wou in dié stadium geen verdere inligting bekend maak nie.

Die polisie doen ʼn beroep op die publiek om met enige inligting rakende die voorval na vore te kom. Meld inligting aan by konst. Rodwell Koeries by 082 4168 471 of Stop Misdaad by 0860 010 111.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

schaun ·

Ek kan glo niemand is nog gevang nie met die totale verval van die polisie en die brandweer wat staak bly net die ambulans personeel oor en hulle gaan nie die saak ondersoek nie.

Michelle ·

Dit is verskriklik hartseer dat nie een persoon enige iets op so klein plekkie kon sien en na vore kan kom nie. Wat mens nog meer hartseer maak is dat ons polisie nie meer bevoeg is op sake ernstige moord sake op te los nie. Ek kan nie dink dat hul nie net iewers op ‘n punt kan begin nie. Hul kan dit met hul eie lede doen.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.