Niemand nog vas vir massaskietery in Mellville

Blomme word Woensdag buite Poppy’s gepak ter herdenking van die oorledenes. (Foto: Facebook)

Niemand is nog in hegtenis geneem in verband met die massaskietery in die vroeë oggendure van Nuwejaarsdag buite die restaurant Poppy’s in Melville nie.

Brig. Mathapelo Peters, woordvoerder van die polisie, het Donderdagoggend aan Maroela Media gesê daar is in die stadium geen nuwe verwikkelinge in die ondersoek nie.

EWN berig die beeldmateriaal van sekerheidskameras buite die restaurant word in die stadium nagegaan en dat die polisie in verbinding is met verskeie ooggetuies.

Twee vroue is Woensdag gedurende ’n Nuwejaarspartytjie buite dié restaurant doodgeskiet. ’n BMW-sportnutsvoertuig het omstreeks 01:00 van 7de Straat in die rigting van Poppy’s gery en lukraak op klante, wat buite die restaurant gesit het, losgebrand.

Drie vroue, tussen die ouderdomme van 30 en 40 jaar oud, is op die toneel dood, terwyl ses ander na nabygeleë hospitale geneem is vir mediese behandeling.

Die restaurant se bestuur het sedertdien die voorval in ’n verklaring betreur. “Poppy’s se bestuur en personeel is diepbedroef oor hierdie hartverskeurende voorval en dra ons innige meegevoel aan die oorledenes se familie en vriende oor.”

Poppy’s-restaurant in Melville (Foto: Google Maps)

Luidens die verklaring sal die restaurant tot verdere kennisgewing gesluit bly sodat die polisie hul ondersoek kan voortsit.

Die publiek het sedertdien verskeie blomme buite die restaurant gepak ter nagedagtenis aan die oorledenes.

Die nuwe jaar is op ’n besonderse somber noot in Johannesburg ingelui, met ’n tweede massaskietery wat ure later in dié stad aangemeld is.

Luidens ’n verklaring deur Panyaza Lesufi, waarnemende premier van Gauteng, is 11 mense sowat twee ure ná die skietery in Melville in ’n soortgelyke skietery in Newtown gewond.

Verskeie skote is omstreeks 03:00 op Mary Fitzgeraldplein vanaf die brug op die M2-Suid op die VIP-gedeelte van ’n Nuwejaarspartytjie afgevuur.

Elf gewonde mense, waaronder vier mans in ʼn kritieke toestand, is na ʼn hospitaal gehaas.

“Ons as ’n provinsie is hartseer oor hierdie barbaarse optrede. Nuwejaarsdag is ’n dag van hoop en viering, ’n dag waarop mense hul lewens op ʼn positiewe wyse beplan,” sê Lesufi.

Die polisie het nog nie op ’n navraag van Maroela Media gereageer om te bevestig of die twee voorvalle met mekaar verbind kan word of nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.