Niemand nog vas vir moord op Rohde-advokaat

Die vermoorde adv. Pete Mihalik (naaslinks). Foto: ANA

Wes-Kaapse polisie ontken gerugte dat ʼn verdagte op Atlantis in hegtenis geneem is in verband met die teregstellingstyl-moord op die advokaat Pete Mihalik Dinsdagoggend.

Die 50-jarige regsgeleerde, wat bekend was daarvoor dat hy beskuldigdes uit die misdaadwêreld verteenwoordig het, is omstreeks 07:30 in die kop geskiet terwyl hy sy kinders by die eksklusiewe private skool Reddam House in Groenpunt afgelaai het.

Net een plek kon gesien word waar ʼn koeël die venster van sy swart Mercedes-Benz binnegegaan het, maar bure het gesê hulle het twee skote gehoor.

Cavalcadeweg in Groenpunt is afgesper terwyl die polisie die moordtoneel voor die eksklusiewe private skool Reddam House vir leidrade gefynkam het. Foto: ANA

Mihalik, wat onder andere die Sotheby’s-baas en moordbeskuldigde Jason Rohde verteenwoordig het, se agtjarige seun is in die aanval beseer en na ʼn hospitaal gebring. Hy het ook ʼn 16-jarige dogter. Sy is ongedeerd. Mihalik se vrou het haar stryd teen depressie sowat drie jaar gelede verloor toe sy haar eie lewe geneem het.

Sers. Noloyiso Rwexana, woordvoerder van die polisie, het gerugte ontken dat ʼn verdagte reeds in hegtenis geneem is en beloof die polisie sal in so ʼn geval ʼn verklaring uitreik. Sy het vroeër gesê die vermeende moordenaar het in ʼn metaalgrys VW Polo weggekom.

Misdaadtoneelondersoekers en forensiese deskundiges het nog tot laat Dinsdagoggend die toneel vir leidrade gefynkam terwyl Cavalcadeweg vir verkeer gesluit gebly het.

ʼn Ouer, wat gevra het om anoniem te bly, het vertel hy het kort ná die ongeluk met die straat langs afgery om sy dogter by die skool af te laai en het gedink daar was ʼn ongeluk.

Leerders is in die skool toegesluit en geen ouers is verby die polisieversperrings toegelaat nie.

In ʼn skrywe aan ouers het die skool die voorval bevestig en gesê leerders kon by ʼn ander ingang opgelaai word, maar sou intussen besig gehou word. Traumaberaders sou ingebring en veiligheid op die perseel opgeskerp word.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Ai tog ·

Hy’t ‘n naam gekry, Pete Mihalik en het die naam gehad voor hy ‘Rhode se advokaat’ was. Noem hom asseblief op die naam. Rhode is ‘n by-saak

Mark ·

Ek stem saam, los doe sensasie eers opsy en noem hom op sy naam. Kry ook dan sommer julle feite reg, die koeël is deur die bestuurder se venster nie die passasiers venster nie.

Peanut ·

Die arme kinders. Eers mamma en nou ook pappa.
Mag julle deur baie familie en vriende se liefde deur hierdie tyd gedra word.

Mary ·

Ek het sopas gelees iemand is in hegtenis geneem. Hoop dit is so… om iemand net eenvoudig voor sy kinders dood te skiet is siek. Hoop hy kry wat hy verdien.

Sê maar net ·

Daar is iemand in hegtenis geneem. Hoop hulle kry die ander persoon ook gou.

Waarheid ·

Stem saam met Ai tog – die man het ,n naam. Dis seker vi r sensasie wat die naam nou aan iemand gekonnekteer moet word.
So onnodig.

Bollie ·

As jy teen die tyd nog nie weet hoe koerante en tydskrifte lesers lok nie, dan het ek nie hoop vir jou.. dis hoe dit werk, orals in die wereld.. opspraakwekende opskrif tot jy dit lees..

jennefer ·

Jammer dat hy sy gesin blootgestel het aan die misdadigers wat hy verdedig het.

Uitkyk ·

Sensasie soekers, maar kan nie berig oor Stellenbosch student, Hannah Cornelius, se verkragting en moord nie. Hieroor vra ek al herhaaldelik …………… Oorsese koerante berig daaroor daagliks. Die rede sal interesant wees…….

humor ·

Hulle is darem haastig om in hierdie geval die moordenaar vas te trek. As hulle so lank moet wag as in die geval van plaasmoorde dan sal hulle nog laaaank wag.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.