‘Niemand uitgesit’ – Bondev ná herrie oor entstofvereiste

(Foto: Unsplash)

Die maatskappy Bondev sê niemand sal uit die Midstream Barracks gesit word nie. Dít nadat ʼn brief vroeër uitgestuur is dat diegene wat nié teen Covid-19 ingeënt is nie, se huurkontrakte opgeskort gaan word.

Maroela Media het vroeër berig daar was groot woede oor die brief wat onder meer gelui het dat daar besluit is dat diegene wat in die barakke wil aanbly, teen 31 Augustus teen Covid-19 ingeënt moet wees. Indien nie, sal die maatskappy geen ander keuse hê as om die betrokke huurders se kontrakte op te skort nie.

Willem Zeederberg, wat die brief namens Bondev uitgestuur het, het by navraag gesê dit is belangrik om kennis te neem dat die gemeenskaplike woonkwartiere tydelike verblyf bied vir veiligheidswagte wat nie elke dag wil pendel wanneer hulle aan diens is nie.

“Met ander woorde, niemand bly op ʼn permanente grondslag in die woonkwartiere nie; hul primêre wonings bly hul private huise,” het Zeederberg Maandag gesê.

“Die brief is uitgestuur ná die algemene pleidooi deur die regering vir mense om in belang van hul eie gesondheid ingeënt te word. Die reg van personeel om hul eie keuse te maak oor inenting is in ag geneem en sal in alle gevalle gerespekteer word.”

Zeederberg sê die saak is intern opgelos sonder dat enigiemand uit die perseel getrek het of gedwing is om dit te doen.

Volgens ʼn regskenner is dit in hierdie stadium nie verpligtend om teen Covid-19 ingeënt te word nie. Talle mense verkies ook weens onder meer geloofsoortuigings of mediese redes om nie die entstof te ontvang nie.

Daar mag ook nie inbreuk gemaak word op mense se reg op liggaamlike integriteit nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

miavos ·

Daar’s nie ‘n manier wat ‘n entstof wat nog nie deur die VSA se FDA goedgekeur is op mense afgedwing kan word nie.

Cherokee ·

My beswaar het hoegenaamd niks te doen die VSA se FDA-goedkeuring of wiè s’n ookal.
Ek het ‘n geloofsbewaar daarteen. Mense wat geënt word, sal ‘n bewys daarvan moet saamdra om in winkels, ander besighede ens, toegelaat te word, of te kan werk om geld te verdien. Dit klink angswekkend baie na ‘n voorspelling wat neersgeskryf is sowat 2000 jaar gelede.

Eerlik ·

Freedom of choice, wat is volgende, gaan jy die inwoners van Midstream ook by hekke voorkeer en aandring op inentings bewyse?

Adam Adriaan ·

Belaglik. Die entstof is veronderstel om jou imun te maak teen Covid. So diegene wie ingeent is hoef niks te vrees nie. Die mense wie nie ingeent is nie hou geen gevaar in vir hulle, wat ingeent is nie. So die lewe gaan mos nou vir die ingeente mense normaal voort. Niks om oor bekommerd te wees nie. Niks om te vrees nie. So waarom die bestuur sulke besluite maak weet nugter alleen. Daar is net een rede. Hulle vertrou nie die vrede nie.

Elinette ·

Presies. Die entstowwe beskerm jou NIE teen die opdoen van die virus nie. Jy kan dit steeds OPDOEN, maar jy raak nie so ernstig siek dat jy suurstof-afhanklik is en dalk in die hospitaal beland nie. GEEN inenting kan jou van infeksie met die spesifieke virus waarvoor dit ontwikkel is, beskerm nie. Dit verlaag bloot die infeksie-ratio en beperk die simptome.

Kaptein67 ·

1 vir demokrasie – 0 vir Bondev … lekker bloedneus ou seun…

Samuel ·

Hoelank nog, dan gaan cANCer ons verplig om ingeënt te word.

Robert ·

Dit is op die kaarte en dan weet hulle hulle kan ook ander regte wegneem.

VaalDonkie ·

Mense kan darem maar vieslik teenoor hul medemens wees as hulle die kans kry.

Elinette ·

Hmmmm ………….. gou ge-“back track” op hulle aanvanklike eis, na ‘n sosiale media herrie, nè? Wys jou – ons mense raak g*tv*l om voortdurend rondgestamp en -gestoot te word.

piet ·

“n Storietjie gelees van ‘n brawe jantjie omroeper wat luisteraars ontmoedig het om die entstof te neem en toe kry hyself die virus. Toe hy dit kry spog hy dat hy so binne 2 dae weer op die lug sou wees. Hy’t selfs ‘n liedjie gemaak opgemaak om spot te dryf met die virus. Nou is hy al weke in die waakeenheid van ‘n hospitaal en sing ‘n ander deuntjie. Hierso lees self: https://www.nytimes.com/2021/07/25/us/phil-valentine-covid-nashville-.html

Tanniepetoors ·

Daar’s nog te veel mense wat graag op ander se nekke wil staan sonder rede.

Ivana ·

Geloofsoortuiging???? Jy kan nie gaan koop as jy nie bewys het dat jy ingeent is nie. Ai mense gaan lees jul Bybel, want duidelik weet julle nie wat jul lees nie. “Mark of the Beast” is waarvan julle praat en dit sal of in jou hand of jou voorkop wees, nie in jou bo-arm nie. Julle mense glo al die tjol wat versprei word deur mense wat geen mediese agtergrond og Bybelkennis het nie. Julle wat nie vir die inenting wil gaan nie en jul mense aanmoedig om dit nie te doen nie, is n gevaar vir julle self asook jul families, want hoe gaan jy voel as jy dit kry,en jy steek een van jou familie aan wat dan doodgaan van Covid omdat julle te slim is om die inenting te neem. Dit is nie n grap nie, so gaan dink n bietjie, as julle nie vir julself omgee nie, gee dan om vir die mense om julle

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.