‘Niemand verplig om klasse by te woon’ sê departement

Twee leerders demonstreer sosiale afstand by Laerskool Tygerpoort (Foto: Verskaf)

Die departement van onderwys sê hy het beduidende voorbereidings getref vir wanneer meer leerders op 6 Julie kan terugkeer skool toe.

Volgens die departement is daar ook waardevolle lesse geleer uit die geleidelike terugkeer van leerders tot dusver. Gr. 12- en gr. 7-leerders het vroeër hierdie maand reeds teruggekeer klas toe.

Dr. Regniah Mhaule, adjunkminister van basiese onderwys, het aan die parlement gesê alle pogings is aangewend om volgende week soveel as moontlik leerders te akkommodeer. Die departement het die parlement Dinsdag op die hoogte van sy voorbereidings vir die verdere geleidelike terugkeer van leerders gebring.

Nog ʼn groep leerders keer aanstaande week terug, maar die departement sê niemand sal verplig word om te midde van die Covid-19-pandemie by die skool aan te meld nie.

“Die planne is aanpasbaar teen die agtergrond van die toename in die infeksiekoers in gemeenskappe. Ons moet ook die kapasiteit van die gesondheidsorgstelsel om ʼn skielike toename in gevalle te hanteer in gedagte hou,” het Mathanzima Mweli, direkteur-generaal van die departement, aan LP’s gesê.

Die departement se plan behels dat slegs die helfte van leerders op ʼn spesifieke tydstip by die skool is om sosiale afstandhandhawing te verseker.

Mweli sê daar is verskeie opsies vir ouers wat verkies om nie in die stadium hul kinders terug te stuur skool toe nie. Hulle kan vir tuisonderrig registreer of kinders kan inskakel by ʼn aanlyn leerprogram. Mweli sê leerders kan ook steeds by die skool geregistreer wees, terwyl ouers skoolwerk by die skool op- en aflaai.

Volgens hom moet skole en ouers in die tyd saamwerk om te verseker geen kind “word agtergelaat nie”.

Mweli sê skoolvoedingskemas is nog een van die redes waarom besluit is om skole te heropen en dat leerders deur dié programme toegang het tot maaltye wat hulle tot dusver tydens die afsonderingstydperk nie gehad het nie. “Daar was geen toegang tot die skemas terwyl die skole gesluit was nie. Nou het ons die program selfs verder uitgebrei na leerders wat nog nie terug by die skool is nie. Ons het gereël dat hulle voortaan kospakkies by die skool kan gaan afhaal.”

Covid-19-noodsaaklikhede soos maskers, handskoene, weggooibare voorskote en skoonmaak- en ontsmettingsmiddels is ook beskikbaar gestel aan diegene wat die programme bedryf.

“Die voedingskemas vir gr. 7- en gr. 12-leerders is in die meeste provinsies reeds suksesvol hervat. Planne is ook reeds beraam om kos aan leerders wat nog nie teruggekeer het skool toe nie, te voorsien.”

Van die verskillende moontlikhede sluit in dat kos op verskillende tye aan leerders bedien word, dat voorafbereide etes of kospakkies by die skool afgehaal kan word, of dat kospakkies by ander afhaalpunte as by die skool gehaal kan word.

Etes aan leerders wat nog nie teruggekeer het skool toe nie, sal na verwagting vanaf 22 Junie voorsien kan word.

Mweli het Dinsdag ook weer ontken dat sommige watertenks wat by skole opgerig is tot R170 000 per tenk beloop het. Sosialemediaberigte oor die beduiende koste van die tenks het vroeër soos ʼn veldbrand versprei. Hy sê hy het geen idee waar dié bewerings vandaan kom nie. Volgens Mweli is die tenks wat by die sosialemediaboodskappe verskyn nie dieselfde soort as wat die departement gebruik nie.

Die departement het Rand Water, as deel van ʼn ooreenkoms met die departement van water en sanitasie, wel R200 miljoen betaal om watertenks te voorsien.

Volgens Mweli is sommige van die tenkwaens wat water by skole moet gaan aflewer, gekaap deur inwoners wat self nie toegang tot water het nie.

“Ons het groot simpatie met die behoefte aan water onder mense, maar ons doen ʼn beroep op mense om toe te laat dat water by skole afgelewer kan word sodat ons by skole kan voortgaan met die stryd teen die nuwe koronavirus.”

Die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, het die kwessie reeds met pres. Cyril Ramaphosa opgeneem in ʼn poging om ʼn oplossing vir die voortslepende waterprobleme in talle gemeenskappe te vind.

Die parlementêre komitees het die departement se voorbereidings geprys, maar ook sy kommer uitgespreek oor die getal leerders en onderwysers wat reeds positief vir Covid-19 getoets het.

Die komiteelede sal as deel van hulle parlementêre oorsigrol die situasie by skole dophou en verseker alle bepalings word nagekom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Sarel ·

Ek het rnstige vrae maar of jy antwoord kry ander saak.
1. Wat van Oos Kaap en KZN
2. Skoolvoeding …. Dept van Onderwys. Of Privaat instansies?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.