‘Niemand wil kamer huur waar kinders vermoor is’

Zinhle Maditla in die hof. (Foto: ANA)

Die voormalige verhuurder van Zinhle Maditla, die vrou wat in hegtenis geneem is in verband met die moord op haar vier kinders in haar gehuurde kamer in Klarinet, Mpumalanga, het Woensdag gesê haar verhuringsonderneming het gely onder dié voorval.

Matilda Mahlangu het buite die Witbank-landdroshof gesê al ses haar huurders het uit die perseel getrek ʼn paar dae nadat die kinders se liggame in Maditla se kamer ontdek is. Sy het met verslaggewers buite die hof gepraat waar Maditla om borgtog aansoek gedoen het.

“Ek het besigheid verloor en was vir vyf maande lank sonder my hoofbron van inkomste,” het Mahlangu gesê. “Ek het die kamer waar die liggame gevind is, gereinig, maar dit het nie gehelp nie. Baie mense wou steeds nie op my erf woon nie en veral nie in daardie kamer nie. Ek het eers verlede maand daarin geslaag om huurders vir al die kamers te kry.”

Sy het gesê hoewel sy simpatie het met Maditla se familie, moet geregtigheid geskied.

Maroela Media het vroeër berig die 24-jarige Maditla is op 30 Desember verlede jaar in hegtenis geneem toe sy haar by die Vosman-polisiestasie gaan oorgee het. Dit was kort nadat die ontbindende liggame van haar kinders (onderskeidelik 11 maande, vier jaar, sewe jaar en agt jaar oud) in haar kamer gevind is.

Matilda Mahlangu, die beskuldigde se voormalige verhuurder, buite die landdroshof in Witbank. (Foto: ANA)

Sy staan tereg op vier aanklagte van moord met voorbedagte rade.

Konst. Zinhle Mathenjwa, die ondersoekbeampte, het gister in die hof vir die staat getuig tydens die borgtogverrigtinge. Mathenjwa het gesê Maditla kan moontlik deur die gemeenskap aangeval word as sy op borgtog vrygelaat word. “Baie woedende gemeenskapslede het by die huis bymekaargekom waar die liggame gevind is en negatiewe goed oor die beskuldigde gesê.”

Maditla se regsverteenwoordiger, wat slegs as mnr. Zondo geïdentifiseer is, het Mathenjwa se getuienis oor die toksikologieverslag betwis. Mathenjwa het vroeër aan die hof gesê die verslag het bevestig die kinders is dood nadat hulle vergiftig is.

“Ek stel dit aan u dat die verslag nie sê daar is gif aan die kinders gegee nie,” het Zondo gesê.

Die hofverrigtinge duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Cherokee ·

Natuurlik nie as haar inkomste onder die belasbare perk is.

Maljan ·

Daar steek Mahlangu se hand uit. Nou gaan sy seker ook vier RDP huise kry om by haar “besigheid” te voeg?vis sy geregistreer? Betaal sy belasting?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.