Nienaber groet Bokke ná Wêreldbeker

Die Springbokke se Jacques Nienaber. (Foto: Juan Mabromata/AFP. )

Die komende Wêreldbeker-rugbytoernooi in Frankryk sal Jacques Nienaber se laaste wedstryde as hoofafrigter van die Springbokke wees.

Die 50-jarige breier het persoonlike redes vir die besluit voorgehou en hy het aangedui dat hy na afloop van die toernooi by Leinster se afrigtersgroep in Ierland sal inskakel.

“Die laaste paar jaar was die hoogtepunt van my afrigtersloopbaan en dit is met hartseer dat my tyd saam met die Springbokke tot ʼn einde kom en dat ek die land om persoonlike redes sal verlaat,” het Nienaber gesê.

Hoewel hy by sy besluit staan, is hy steeds oorgehaal om Wêreldbeker-sukses saam met die Springbokke te smaak.

“Dit is ongetwyfeld my hoofprioriteit en ek sal alles in my vermoë doen om dit ʼn werklikheid te maak,” het Nienaber beloof.

Volgens Rian Oberholzer, SA Rugby (Saru) se uitvoerende hoof, het die afrigter in ’n openhartige gesprek die redes vir sy besluit deurgegee.

“Ons sal weldra ’n nuwe Springbok-afrigter aanwys, maar Rassie Erasmus is deel van die opset tot ten minste 2025,” het Oberholzer gesê.

Onder Nienaber se toesig het die Suid-Afrikaners onder meer met die Britse en Ierse Leeus afgereken, terwyl hulle ook met topvertonings teen die All Blacks op Mbombela en teen Engeland op Twickenham vorendag gekom het.

Hy was ook aan die stuur van die Springbok-span wat vir die eerste keer in nege jaar die Wallabies weg van die huis kon klop.

Danksy spelers soos Kurt-Lee Arendse, Damian Willemse, Willie le Roux en Manie Libbok se ingryping het die Bokke op hul laaste Europese avontuur ook gewys dat hul spel nie net uit skoppe en verdedigingswerk bestaan nie; hulle kan ook goeie drieë druk.

Jacques Nienaber en Rassie Erasmus. (Foto: Twitter).

Ná daardie jaareindtoer – waar die Suid-Afrikaners twee van die vier toetse gewen het – het Nienaber erken dat hy tevrede is met die spelers se vordering.

“Ja, ons wenrekord is net 50%, maar dit was beslis een van die lekkerste vier weke saam met die span. Ek is trots op die wyse waarop die span, afrigtersgroep en bestuur saamgewerk het en ons kan beslis hierop voortbou.”

Nienaber is al vir altesaam 26 toetse aan die stuur van die nasionale rugbyspan en sy wenrekord is 61%.

Toegegee, dit is glad nie vergelykbaar met legendes soos Kitch Christie (100%) en Nelie Smith (80%) nie, maar hy is kort op die hakke van Peter de Villiers (62%) en Erasmus (65%).

“Jacques is ’n uitstekende dienskneg van Suid-Afrikaanse rugby – op provinsiale en nasionale vlak – vir  20 jaar. Die 2023-seisoen is sy topprioriteit en ek weet hy sal onverpoos werk om Springbok-sukses te verseker,” het Mark Alexander, Saru-president, bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.