Nierskandaal: Een van die dokters sterf

Dokters in die nierskandaal-saak Foto: IOL (www.iol.co.za)

Dokters in die nierskandaal-saak Foto: IOL (www.iol.co.za)

Een van die vier chirurge wat in ʼn internasionale skandaal vir onwettige nierverkope betrokke was, is dood terwyl hy met vakansie was saam met sy gesin, het die SAUK Vrydag berig.

Mahadev Naidoo is in die Seychelle-eilande oorlede. Sy begrafnisdiens sal na verwagting Vrydag by die Clare Estate in Durban plaasvind.

Naidoo en drie ander dokters is van bedrog, sameswering om bedrog te pleeg en oortreding van die Wet op Menslike Weefsel aangekla. Hulle het glo onwettige oorplantingsoperasies by Netcare se St Augustine-hospitaal in Durban uitgevoer. Die staat het klagtes ná ʼn lang hofsaak teruggetrek.

Die aanklagte is in Desember 2012 in die Durbanse hooggeregshof laat vaar nadat die regter bevind het die chirurge se reg op ʼn billike verhoor is verbeur weens die sewe jaar lange vertraging in die saak. Die chirurge het ʼn aansoek in Desember 2011 gebring waarin hulle aangevoer het hulle was onbewus daarvan dat Israeli’s verarmde Brasiliaanse skenkers vir hul niere betaal het.

City Press het in September 2012 berig dat die niere glo tussen 2001 en 2003 geoes is sonder om behoorlike mediese of sielkundige toetse te doen. ʼn Interne oudit van die oorsese orgaanskenkingsprogram het bewys dat slegs 10 uit 104 oorsese skenkers mediese evaluasie ondergaan het. Slegs twee van die skenkers het sielkundige evaluasieverslae gehad.

Die chirurge, John Robbs, Ariff Haffejee, Neil Christopher en Naidoo het aangevoer hulle word kwaadwillig en selektief vervolg. Hulle het gesê dokters vir die Netcare-hospitaalgroep in Kaapstad en Johannesburg, wat onwettige oorplantings doen, is nie aangekla nie. Lindy Dickson en Melanie Azor, personeellede van die voormalige oorplantingseenheid, het dieselfde bewerings in ʼn aparte aansoek gemaak, het die City Press berig.

Netcare het ʼn boete van R7 miljoen betaal nadat die hospitaalgroep skuld beken het.

-SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.