Nigerië-ineenstorting: Beseerde SA’ner keer terug na kerk

Die vliegtuig wat beseerde Suid-Afrikaners van Nigerië af vervoer het, het op 22 September by Swartkop-lugmagbasis geland.  Foto: @snapalot op Twitter.

Die vliegtuig wat beseerde Suid-Afrikaners van Nigerië af vervoer het, het op 22 September by Swartkop-lugmagbasis geland.
Foto: @snapalot op Twitter.

Een van die 26 mense wat beseer is toe ʼn kerkgebou in Nigerië ineengestort het, het besluit om in die land agter te bly.

“Slegs 25 persone het op die vliegtuig geklim, aangesien een na die sinagoge teruggekeer het,” het Jeff Radebe, minister in die presidensie, Maandag aan verslaggewers by Swartkop-lugmagbasis gesê, net nadat die oorlewendes geland het.

Radebe het gesê die redes vir die persoon se besluit is nog nie bekend nie. “Toe die oorlewendes teruggebring is, het die persoon besluit om in Nigerië te bly.”

Ongeveer 115 mense, waaronder 84 Suid-Afrikaners, is dood en talle vasgekeer toe ʼn gastehuis van die Synagogue Church of All Nations van TB Joshua op 12 September ineengestort het.

Sowat 350 Suid-Afrikaners het die kerk besoek toe die tragedie plaasgevind het.

Joshua, beter bekend aan sy volgelinge as “Die Profeet” of “Die Man van God” het Sondag onderneem om Suid-Afrika te besoek om met die slagoffers en hul families te vergader.

Maatskaplike werkers het ook twee kinders, wat wees gelaat is deur die ineenstorting, Maandag by die Steve Biko Akademiese Hospitaal ontvang. Die twee is onderskeidelik 18 maande en twee jaar oud. ʼn Sesjarige kind was ook deel van die groep beseerde Suid-Afrikaners wat Maandag van Nigerië teruggekeer het.

Phumla Williams, waarnemende woordvoerder van die kabinet, het gesê die kinders is in goeie hande.

ʼn Groep pasiënte is kort nadat die C130 Hercules-vliegtuig op Swartkop geland het, na die hospitaal geneem. Meeste pasiënte is met draagbare uit die vliegtuig gehaal en na ambulanse geneem. ʼn Vrou in ʼn rooi rok, wat deur twee soldate ondersteun is, het mank na een van die ambulanse gestap. Ander het ook met bystand uit die vliegtuig gestap.

ʼn Konvooi van Tshwane-metropolisiebeamptes op motorfietse en voertuie van die Suid-Afrikaanse Polisiediens het die eerste twee ambulanse net na 11:00 van die lugmagbasis vergesel. Die tweede konvooi van bykans 20 ambulanse het net daarna gevolg.

Lees ook:
Nigerië-ineenstorting: Oorlewendes land in SA
TB Joshua wil Suid-Afrika besoek
Nigerië-ineenstorting: 4-jarige SA meisie lewendig gevind
Nigerië-ineenstorting: SA-dodetal styg
TB Joshua ontken versuim om saam te werk
Ineenstorting by TB Joshua-gebou: SA-noodwerkers weggejaag
Joost het nie met Nigeriese prediker ontmoet nie
Ineenstorting by TB Joshua-gebou: Dodetal nog onduidelik
67 SA’ners sterf in Nigerië by TB Joshua-gebou
SA’ners dalk geraak deur ineenstortings in Nigerië

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.