Die vliegtuig met die liggame van 74 van die 81 Suid-Afrikaners wat dood is toe ʼn gebou in Nigerië ineengestort het, het Sondagoggend by Waterkloof-lugmagbasis geland, het die SAUK berig.
Jeff Radebe, minister in die presidensie, Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid en Bathabile Dlamini, minister van maatskaplike ontwikkeling, was by die lugmagbasis toe die vliegtuig geland het.
Die SAUK is op die aanloopbaan toegelaat voordat die vliegtuig geland het. Ander joernaliste moes by die offisiersmenasie van die basis wag.
Altesaam 116 mense is op 12 September dood toe ʼn gastehuis by TB Joshua se Synagogue Church of All Nations in Lagos ineengestort het. Altesaam 26 beseerde Suid-Afrikaners het ʼn maand gelede teruggekeer. Twintig van die beseerdes is reeds uit die hospitaal ontslaan en met hul gesinne herenig.
Die liggame sal nou na verskeie provinsiale lykshuise oorgeplaas word voordat privaat begrafnisse gereël word.
Lees vorige berigte oor die ineenstorting op Maroela Media.