Nigerië-ineenstorting: SA-dodetal styg

Die gebou wat ineengestort het Foto: Channel NewsAsia

Die gebou wat ineengestort het Foto: Channel NewsAsia

Die aantal Suid-Afrikaners wat omgekom het toe ʼn gebou in Nigerië ineengestort het, het van 67 na 84 gestyg, het die SAUK Vrydag berig.

Lulu Louis Mnguni, Suid-Afrika se hoëkommissaris in Nigerië, het Vrydagoggend in ʼn onderhoud aan die openbare uitsaaier gesê die sterftesyfer staan nou op 84.

Hy het gesê die soektog na persone wat nog nie opgespoor is nie, is afgelas en dit word nou aanvaar dat dié persone oorlede is. “Altesaam 17 persone se liggame is nog nie opgespoor nie,” het Mnguni gesê. Pres. Jacob Zuma het vroeër vandeesweek aangekondig dat 67 Suid-Afrikaners in die tragedie gesterf het.

ʼn Gebou van TB Joshua, ook bekend as “Die Profeet” aan sy volgelinge, se Synagogue Church of All Nations het verlede week Vrydag ineengestort.

Owerhede het Donderdag gesê buiten die 67 Suid-Afrikaners wat omgekom het, word 17 nog vermis. Altesaam 349 Suid-Afrikaners was in Lagos om Joshua se kerk by te woon toe die ramp getref het. Altesaam 265 Suid-Afrikaners is lewend opgespoor.

Intussen het Phumla Williams, woordvoerder van die regering se departement van kommunikasie, in ʼn verklaring gesê ʼn span is uit verskeie staatsdepartemente saamgestel wat tegniese bystand en ondersteuning sal verleen aan die slagoffers en hul families.

Sy sê daar was ʼn oorweldigende reaksie toe hulle die naasbestaandes gister versoek het om foto’s van hul geliefdes aan te stuur. Al die foto’s is na die Suid-Afrikaanse konsulaat in Nigerië gestuur om die liggame uit te ken.

Altesaam 10 liggame is reeds positief uitgeken deur identiteitsdokumente wat in hul besit gevind is. Hierdie persone se families is reeds in kennis gestel van hul afsterwe. Die regering het ʼn span maatskaplike werkers by die departement van internationale betrekkinge se bedryfsentrum en die OR Tambo Internasionale Lughawe ontplooi om die naasbestaandes te ondersteun.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.