Nigerië-ineenstorting: Toetse op DNS-monsters baie moeilik

'n Vragmotor vervoer die oorskot van die slagoffers van die ineenstorting in Nigerië (Waterkloof-lugmagbasis, 16 November 2014) Foto: Kopano Tlape, departement van kommunikasie

‘n Vragmotor vervoer die oorskot van die slagoffers van die ineenstorting in Nigerië (Waterkloof-lugmagbasis, 16 November 2014) Foto: Kopano Tlape, departement van kommunikasie

Genetiese toetse om die oorskot van 84 Suid-Afrikaners wat gesterf het toe ʼn gebou in Nigerië ineengestort het, is baie moeilik, het die Saturday Star berig.

Dr. Munro Marx, hoof van Unistel-mediese laboratoriums se genetiese toetssentrum by die Universiteit van Stellenbosch, het gesê dit is die moeilikste toetse wat hulle tot dusver moes doen. “Ontbinding gebeur baie vinnig in Lagos weens die temperatuur en humiditeit,” het hy aan die koerant gesê.

Die liggame van slagoffers is eers vier dae ná die ramp uitgehaal. ʼn Gastehuis by TB Joshua se Synagogue Church of All Nations het op 12 September 2014 ineengestort. Altesaam 116 mense is in die tragedie dood. “Toe die liggame onder die puin uitgehaal is, is die liggame gebalsem. Die chemikalieë het egter ook in die weefsel en beendere ingetrek. Dit was dus baie moeilik om DNS te bekom,” het hy bygevoeg. “Die 116 monsters wat ons gehad het was nie almal van ʼn goeie gehalte nie.”

DNS-monsters moet boonop van gesinslede van die slagoffers geneem word om met die bestaande monsters te vergelyk. Die rampbestuurspan, wat bestaan uit beamptes van die departement van gesondheid en die polisie, is daarvoor verantwoordelik om DNS by die gesinslede te bekom. Marx het gesê werk van die vyf genetici wat aan die DNS-toetse werk is uiters spanningsvol. “Ons werk bykans daagliks al om die uur.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.