Nigerië-ontvoerings: SA’ner op pad terug

Foto: Google Maps

Foto: Google Maps

Die Suid-Afrikaner, wat Woensdag saam met ses ander werknemers van ʼn Australiese maatskappy in die Cross River-staat in Nigerië ontvoer is, sal na verwagting Dinsdagoggend met sy gesin in Suid-Afrika herenig word.

Nelson Kgwete, woordvoerder van die departement van internasionale betrekkinge en samewerking, het bevestig die man is ongedeerd en het Maandagaand uit Nigerië vertrek. Die mans is glo vrygelaat nadat hul werkgewer ʼn onbekende bedrag as losprys betaal het.

Macmahon Holdings Limited, in wie se diens die mans is, het Sondag in ʼn verklaring gesê vyf van die mans is beseer, waarvan twee se beserings ernstig is. Hulle word deur ʼn span mediese spesialiste behandel. Die twee wat nie beseer is nie, is medies ondersoek.

“Reëlings is getref om die mans veilig terug te bring na hul gesinne, sodra hulle medies geskik verklaar is om te reis,” het die verklaring gesê. Sy van Dyk, uitvoerende hoof van Macmahon, het die mans geloof vir hul dapperheid tydens die beproewing.

“Ons manne is deur ʼn traumatiese ervaring en daarom het ons onmiddellik mediese- en ander ondersteuningspanne in Nigerië gemobiliseer om aan hul ondersteuning te verleen,” het hy gesê. Hy het gesê al sewe mans is die geleentheid gegee om met hul gesinne in verbinding te tree.

Van Dyk het gesê die maatskappy betreur die afsterwe van die plaaslike bestuurder, Matthew Odok, wat tydens die voorval dood is.

Die mans het versoek om nie geïdentifiseer te word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.