ʼn Man van Nigerië wat drie jaar lank ʼn voortvlugtige was, verskyn Vrydag in die streekshof in Oos-Londen in die Oos-Kaap op aanklag van mensehandel.
“Chinemere Amagwoyi (33) en sy medebeskuldigde, Prince Agu (35) moes al in April 2012 in die hof verskyn het,” het lt. Robert Netshiunda, woordvoerder van die Valke, in ʼn verklaring gesê. “Die twee het egter landuit gevlug voordat hulle gevonnis kon word en ʼn lasbrief vir hul inhegtenisneming is uitgereik.”
Die twee het drie jaar lank die polisie ontduik totdat Amagwoyi uiteindelik weer in Februarie in hegtenis geneem is. “Hy was sedertdien in aanhouding,” het Netshiunda bygevoeg. “Hy moet Vrydag in die hof verskyn op aanklag van mensehandel en oortreding van borgtogvoorwaardes.”
Amagwoyi en Agu is aanvanklik in Junie 2010 in hegtenis geneem toe hulle glo twee tieners, onderskeidelik 15 en 16 jaar oud, van Johannesburg na Oos-Londen ontvoer het. “Die meisies is gedwing om as prostitute in Quigney te werk totdat ʼn Durbanse prostituut hulle gered en by ʼn vriend se huis versteek het,” het Netshiunda verduidelik. “Die polisie het hulle gevind toe hulle roetine-patrolliewerk gedoen het.”
Die twee is aanvanklik vrygelaat op borgtog, en die Valke is warm op Agu se spoor.
Die langarm van die gereg het gewen