Nigeriese pastoor dán eers verhoor

Betogers buite die hof. Foto: ANA.

Die Nigeriese pastoor en die twee vroue wat daarvan beskuldig word dat hulle hom glo gehelp het om meisies vir hom te werf vir mensehandel en seksuele misbruik, was Donderdag terug in die Port Elizabeth-landdroshof.

Maroela Media het vroeër berig dié omstrede pastoor (58), wat op 20 April verlede jaar in hegtenis geneem is op aanklagte van mensehandel, het glo kerke in Port Elizabeth, Kaapstad, Johannesburg en die Verenigde Koninkryk bestuur, en het na bewering meer as 30 meisies en vroue van verskeie takke van dié kerke na ʼn huis in Umhlanga, KwaZulu-Natal, geneem waar hy hulle glo seksueel misbruik het.

Volgens die staat was die beweerde slagoffers tot so jonk as 13 jaar oud.

Die pastoor word deur nagenoeg 22 aanklagte van mensehandel en seksuele misbruik in die gesig gestaar. Hy het ook vyf aanklagte van bedrog teen hom omdat hy onwettig in die land is.

Lusanda Solani (36) van Durban en Zukiswa Sitho (28) van Port Elizabeth het reeds skuld ontken op aanklagte wat mensehandel en seksuele misbruik insluit.

Al drie beskuldigdes word verteenwoordig deur Peter Daubermann.

Staatsaanklaer adv. Zelda Swanepoel het Donderdag gesê ʼn moontlike verhoordatum is tussen 31 Julie en 31 September vasgestel. Dié datums is in dié stadium slegs voorlopig omdat dit nog afhang van Daubermann se beskikbaarheid.

Swanepoel het gesê die staat wag nog vir magtiging van die nasionale direkteur vir openbare vervolging (NDOV) vir die sentralisasie van die klagtes wat rampokkery insluit.

Daubermann het gesê hy het aansoek gedoen om verlof tot appèl by die appèlhof teen die weiering van die pastoor se aansoek om borgtog deur landdros Thandeka Mashiyi.

Die pastoor se borgtogaansoek is al twee keer van die hand gewys omdat hy as ʼn vlugrisiko beskou word.

Albei vroue is tans uit op borgtog van R2 000 elk.

Die vroue het die hof verlaat, omring deur ʼn groep mense, met hul gesigte deur sambrele verskuil voordat ʼn wit BMW met hulle weggejaag het.

Die saak is tot 11 April uitgestel wanneer dit dalk na die hooggeregshof in Port Elizabeth oorgeplaas sal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

marous ·

Laat hom uit op voorwaarde dat hy by sy regsverteenwoordiger aan huis bly , tot die verhoor afgehandel is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.