Nigeriese pastoor het glo Valke-beampte aan sy kant gehad

Argieffoto

Die Nigeriese pastoor wat daarvan beskuldig word dat hy 30 meisies seksueel misbruik het, het glo hulp van ʼn senior beampte van die Valke gekry.

Dié hulp het dit glo vir hom moontlik gemaak om vir só lank inhegtenisneming vry te spring omdat hy glo hy het geweet wat die Valke beplan.

Ao. Peter Plaatjies, die ondersoekbeampte, het Donderdag tydens die 58-jarige pastoor se aansoek om borgtog in die Port Elizabeth-landdroshof getuig. “Die Valke het inligting ontvang dat die pastoor Suid-Afrika ná die Paasnaweek sou verlaat. Die ondersoekspan het na Bloemfontein gereis om die kerkdiens by te woon en hom daar vas te trek, maar dit het toe duidelik geword dat dit nie sou werk nie,” het Plaatjies gesê.

“Daar is aan ons gesê dat ons nooit by hom sou uitkom met die hoeveelheid lyfwagte en gevolg wat hy het nie. Die ondersoekspan kon nie by hom uitkom na die diens nie: Hulle was onvoorbereid op die hoeveelheid sekuriteit wat die man het.”

Plaatjies het getuig hoe daar ná die diens verskeie BMW’s, Land Rover’s en ander motors buite die gebou was. “Die pastoor het in een van die motors geklim. Een van die voertuie het ʼn blou lig aangeskakel en die verkeer is herlei en dit was toe vir ons duidelik dat iemand van die polisie deel is van die pastoor se gevolg.”

Volgens Plaatjies is die ondersoekspan die volgende dag na nóg ʼn diens waar die beweerde beampte van die Valke op die verhoog geklim en begin praat het oor die “gerugte” wat meisies maak van seksuele mishandeling. “Hy het homself as ʼn lid van die Valke identifiseer en aan almal teenwoordig gesê dat daar lede van die Valke in die gebou is en dit het die hele operasie geknak.”

Plaatjies het nie die man geïdentifiseer nie. Die man het die Valke glo ingelig dat hy nie meer betrokke wil wees nie en sy voertuig met die blou ligte aan hul uitgewys. “Senior beamptes van die Valke is ook in die pastoor se kerk, dis hoekom ons so gesukkel het om hom vas te trek, hy was ons altyd een treetjie voor.”

Robert Netshiunda, woordvoerder van die Valke, het buite die hof gesê die Valke ondersoek die bewerings dat een van hul werknemers betrokke was. Hy wou nie bevestig of die man al aangekla is nie. “Ons doen ons eie ondersoek.”

Die staat het aangevoer dat die pastoor ʼn vlugrisiko is. Plaatjies het gesê die ondersoekbeamptes kon steeds nie die pastoor se twee paspoorte of werkspermit in die hande kry nie.

Plaatjies het ook gesê dat dit ʼn ongelooflike stryd was om die pastoor se adres te verifieer. Die adres wat hy verskaf het, is glo in Brittanje waar hy ongewens verklaar is nadat hy in hegtenis geneem is vir bedrog.

Dié omstrede pastoor, wat glo kerke in Port Elizabeth, Kaapstad, Johannesburg en Brittanje bestuur, het na bewering meer as 30 meisies en vroue van verskeie takke van die kerke na ʼn huis in Umhlanga, KwaZulu-Natal, geneem waar hy hulle na bewering seksueel misbruik het.

Plaatjies het besonderhede met die hof gedeel oor die pastoor se beweerde modus operandi. Senior beamptes van die kerk sou glo arm meisies “werf” en onderneem dat die pastoor hul lewe sal verander.

“Foto’s sou van hulle geneem word en onderhoude met hulle gevoer word. As die pastoor tevrede was met hul voorkoms sou dit gereël word dat hul Durban toe geneem word. By tye was daar 40 meisies in een kamer. Die pastoor sou een kies om na ʼn slaapkamer te gaan waar hy dan seksuele toenadering sou soek. Terwyl hy besig was hiermee het hy elke keer ʼn ander Bybelvers aangehaal.”

Mense het buite die hof saamgedrom om die pastoor te ondersteun.

Die staat het gesê die klagstaat is intussen aangepas om nie net vier nie maar 221 klagtes van seksuele aanranding en mensehandel in te sluit.

Die pastoor bly in aanhouding. Die aansoek om borgtog sal Donderdagmiddag voortduur.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Annie ·

Moenie vir hom borg gee nie – laat hom sit en krepeer van ellende.

Johann ·

Sal nie verbaas wees as.die “pastoor” homself goed in SA ingegrawe het met of sy “heilige” magsinvloed, of geld, of albei nie? En hoekom mag sy naam nie bekend gemaak word nie? Of is dit als deel van die “politieke korrekte ope uitnodiging ” aan Nigeriërs om hul “kerke” hier te kom vestig? Ons polisie minister was taamlik uitbundig om sy eertydse pelle van Zim af die skuld te gee vir n paar goed. Soy baie graag wou weet wat hy van sy Nigeriese pelle sê?

eish ·

So n wolf in skaapsklere!
n Rokie na ete, dit, staan in die Bybel. Genesis 1:5 die 15de Woord. 53 vertaling.
So ploeg die priesters met die kudde, al waarvan die kudde verlos word is swaarverdiende geldjies en menswaardigheid.

Ouma ·

Soos my huishulp, wat ook met ‘n “prediker” getroud was gesê: Predikant? Predikant van die DYBEL (duiwel) ja…..

m ·

Hierdie mense het almal kontakte in die polisie dis hoe hulle wegkom met alles.

Johann ·

Wie weet? Dalk is hy.die heilig ingeligte wat vir Zuma en sy maaikies elke dan en wan van goddelike statuurbelig en inlig? Zumpi en sy kraal het mos gereeld n verwysing na hul verbandskap aan Jesus se koms? Of dalk redirect die “pastoor” en van sy mede Nigeriese kerkstigters n paar van hulle kollekte bordjies ten voordeel van ZUMANIA? Berug vir hulle PRO REGERING verkondiging in SA!!!!!

Thea ·

Korrup…. alles en almal korrup as ek nou hier moet se wat ek waaragtig wil slaap ek vanaand in die tronk.

Johann ·

Wie weet? Dalk is hy.die heilig ingeligte wat vir Zuma en sy maaikies elke dan en wan van goddelike statuurbelig en inlig? Zumpi en sy kraal het mos gereeld n verwysing na hul verbandskap aan Jesus se koms? Of dalk redirect die “pastoor” en van sy mede Nigeriese kerkstigters n paar van hulle kollekte bordjies ten voordeel van ZUMANIA? Berug vir hulle PRO REGERING verkondiging in SA!!!!! En dan worry ons oor aanslae van buite die “kerk”?

Jean ·

Ja hoor dit is wat my die meeste bekommer in SA. Dat die kriminele met die regte konneksies (valke, polisie, politici,regslui) met moord wegkom. Nog altyd was die REG in SA iets waarop jy kon staatmaak, nou stel hulle BAIE TELEUR, hoeveel hofsake swaai hulle net na een kant toe? Jammer ek vertrou nie meer die regstelsel in SA nie, dit word nie gebalanseerd toegepas nie, daar is BAIE vooroordeel tans op die regsbank . kyk maar na die afgelope tyd se hofsake, sekere etniese groepe sit in die tronk vir baie kleiner misdade as wat ‘n ander etniese groep se moordenaars sit .. inteendeel hulle loop buite op die strate rond, op BORGTOG terwyl borgtog vir ‘n ander etniese groep geweier word .. WONDER net hoe leef hulle met hulleself saam? Is daar nie iets erens wat se hulle moet ETIES en ONPARTYDIG optree nie?

Nastassia ·

Kyk nou ‘n bietjie, hier word ‘n pastoor wat die afskuwelikste dade gepleeg het ONDERSTEUN, die manne wat die ou in die doodskis gesit het het GEEN ondersteuning gehad nie. Ons kruip so gou weg agter moraliteit en distansieer ons van mense wat net VERDINK word voordat hulle nog skuldig bevind is, hier word die pastoor opgehemel en ondersteun .. se maar baie van die karakter van ons mense!!

Theresa ·

Sjoe, hy kruip weg agter iets heiligs om sulke vieslikhede te doen. Al is dit dalk nie nou nie, hy sal nooit daarmee wegkom nie. Wys sy gesig, gee sy naam. Wys ook wie al sy maters is wat in hoë posisies sit en hom ondersteun in wat hy doen deurdat hul sy pad baan na waar hy wil wees en stilbly oor wat hy doen. Sies. O ja, is hy familie van die DOOM-prophet? Johann, ek het byna van my stoel afgeval toe ek die woord Zumania lees! Perfek.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.