Nigeriese pastoor weier om te pleit op aanklagtes

Nigeriese pastoor Timothy Omotoso in die hooggeregshof in Port Elizabeth (Foto: Raahil Sain/ANA)

Die Nigeriese pastoor Timothy Omotoso (58) het Dinsdag geweier om te pleit op die 63 aanklagte teen hom toe verrigtinge uiteindelik in die hooggeregshof in Port Elizabeth kon begin.

Omotoso se twee vermeende medepligtiges, Lusanda Solani (36) en Zukiswa Sitho (28), is ook deur hul regspan aangeraai om nie te pleit op die aanklagte teen hulle nie. Hulle staan onder andere tereg op aanklag van mensehandel, verkragting, seksuele aanranding, en swendelary.

Die hofsaak sou al vroeër vandeesweek begin het, maar het verskeie vertragings beleef. Die hof se opnemer was Dinsdag buite werking en die verdediging het ook twee aansoeke gebring voor die saak ʼn aanvang kon neem.

Die televangelis het Dinsdag net ná 15:00 geweier om te pleit op ʼn reeks aanklagte, insluitend mensehandel, verkragting, seksuele aanranding, en swendelary.

Regter Mandela Makaula het namens die drie persone aangeteken dat hulle skuld ontken.

Wat betref die aanklagte van mensehandel en verkragting, wat na bewering in Israel en Nigerië plaasgevind het, het Makaula die pleit as buite jurisdiksie aangedui.

Timothy Omotoso en sy twee vermeende medepligtiges, Lusanda Solani en Zukiswa Sitho tydens ʼn vorige hofverskyning (Foto: Raahil Sain/ANA)

Terwyl staatsaanklaer Nceba Ntelwa die verskeie aanklagte aan die hof voorgehou het, het die hof gehoor ʼn 13-jarige meisie en ʼn 14-jarige meisie was van die beweerde slagoffers. Die staat het ook aangedui die pastoor het sy Jesus Dominion International Church gebruik as ʼn manier om ʼn onderneming te bedryf waar swendelary plaasvind.

Peter Daubermann, vir die verdediging, het gesê al drie sy kliënte hou vol dat hulle nie behoorlik ingelig is oor die aanklagte teen hulle nie. Volgens hom is sy kliënte nie in ʼn posisie om te pleit nie.

Die staat sal na verwagting Woensdag sy eerste getuie roep.

Omotoso word daarvan verdink dat hy meer as 30 meisies en vroue van verskeie takke van sy kerk na ʼn huis in Umhlanga, KwaZulu-Natal geneem het waar hulle seksueel uitgebuit is. Van die meisies was so jonk as 13 jaar oud.

Solani en Sitho word daarvan beskuldig dat hulle meisies van oor die land heen gewerf het vir seksuele uitbuiting.

Die televangelis is op 20 April 2017 in hegtenis geneem deur die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke) by die lughawe in Port Elizabeth.

Die polisie in Port Elizabeth het vroeër bevestig twee polisiekonstabels, wat nie aan diens was nie, het hulself wanvoorgestel in ʼn poging om die mensehandelsaak van die pastoor by te woon. Kol. Priscilla Naidu, woordvoerder van die polisie, het gesê die twee vroulike konstabels het by die hof opgedaag en aanstellingsertifikate van die SAPD getoon. Hulle het aan die sekuriteitsbeamptes by die hof gesê hulle is “protokol-waarnemers”, maar veiligheidsbeamptes was agterdogtig en het die ondersoekbeampte in kennis gestel.

Naidu het gesê daar is geen rol van “protokol-waarnemer” binne die SAPD nie. “Hulle is in die hof toegelaat, maar die ondersoekbeampte het hulle genader en ondervra.” Naidu het gesê die SAPD sal die saak intern ondersoek.

Trompoppies tree op vir lidmate van die kerk buite die hof (Foto: Raahil Sain/ANA)

Een van die polisiekonstabels is later weg saam met lede van die Jesus Dominion International Church.

Maroela Media het vroeër berig ʼn onbekende vrou het ook Dinsdag vir drama in die hooggeregshof gesorg toe polisiebeamptes haar fisiek uit die hofgebou moes dra. Die voorval is op video vasgevang waar die vrou met Peter Plaatjies, speurder van die Valke, argumenteer en weier om die gebou te verlaat.

Sy is vermoedelik ʼn lidmaat van die Jesus Dominion International Church en het haarself valslik voorgedoen as ʼn lid van Omotoso se sekuriteitspan. Sy het geweier om die hofgebou te verlaat en het geskree en geskop terwyl beamptes haar by die gebou uitgedra het. Die hofverrigtinge was nog nie in hierdie stadium aan die gang nie. Die vrou wou nie ná die onderonsie met verslaggewers praat nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Karolis ·

Hierdie mense het geen respek vir wet en orde of geregtigheid nie.
Onder die vaandel van hulle eie geloof is alles wat hulle doen geregverdig.
Waarom word hulle soveel toegelaat?

Se maar net ·

Die hele aftika weet hoe korrup en onbevoeg die owerhede in sa is en daarom word die hoofkwartiere vir al hierdie bose bedrywighede hierna toe geskuif.

Saartjie ·

Die pastoor se uitrusting herinner sterk aan die uniforms van die Staatspresidentswag uit die vorige bedeling.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.