Niggies verdrink in vloedwater, seun in rivier

Die meisies het hier verdrink.

Die meisies het hier verdrink.

Drie kinders se liggame is Woensdag in twee afsonderlike voorvalle, onderskeidelik in die Vrystaat en die Oos-Kaap, gevind nadat hulle verdrink het.

In die jongste voorval het twee niggies, Primrose Ramoroho (7) en Caroline Nthagoe (17), verdrink toe hulle deur vloedwater in Ficksburg meegesleur is.

Kapt. Phumelelo Dhlamini, polisiewoordvoerder, het gesê die meisies het omstreeks 13:30 in Sone Ses van Meqheleng, alleen van hul skool af huis toe gestap toe hulle deur ʼn kitsvloed in ʼn straat oorweldig is. Hulle is in ʼn stroom ingespoel wat na die Caledonrivier lei.

“Lede van die gemeenskap het die meisies se liggame uit die stroom gehaal en die voorval by die Ficksburg-polisiestasie aangemeld. Die polisie doen ʼn geregtelike doodsondersoek.”

In die ander voorval het ʼn agtjarige seun, Sinothando Mevana, Dinsdag omstreeks 17:00 in die Buffelsrivier in Mdantsane buite Oos-Londen verdrink.

Volgens Kapt. Mluleki Mbi, polisiewoordvoerder, het die seun sy ouer broer, wat ʼn minderjarige is, agtervolg toe dié saam met ʼn maatjie gaan visvang het.

“Die seun [Sinothando] het glo by die rivier gegly en in die water beland. Die voorval is aangemeld en die polisie se honde-eenheid is na die rivier om na die seun te soek,” het Mbi gesê.

Die soektog is Dinsdagaand weens swak lig afgelas en is Woensdagoggend hervat. Polisieduikers het later sy liggaam in die rivier gevind.

Die Inyibiba-polisie doen ʼn geregtelike doodsondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.