‘Niks fout’ met dié reëls sê speaker ná OB kla

Thandi Modise. (Foto: Phando/Jikelo/ANA)

Daar bestaan daar geen wetlike beperking of gronde vir die Nasionale Vergadering om nie voort te gaan met die implementering van die nuwe reëls vir die verwydering van die hoofde van hoofstuk 9-instellings nie.

Só het Thandi Modise, speaker van die Nasionale Vergadering, gereageer nadat adv. Busisiwe Mkhwebane, beleërde Openbare Beskermer (OB), haar daarvan beskuldig het dat sy haar [Mkhwebane se] grondwetlike regte skend.

Mkhwebane het Dinsdag gesê sy het ʼn prokureursbrief aan Modise se kantoor gestuur waarin sy ook eis dat die parlementêre proses om haar uit haar pos te verwyder opgeskort word totdat haar kommer oor sekere aspekte daarvan na haar goedkeuring uitgestryk is.

Sy het Modise daarvan beskuldig dat sy in die media kennis geneem het van die voorneme om haar uit haar pos te verwyder. Mkhwebane voer aan dit kom neer op ʼn skending van haar reg op privaatheid en waardigheid.

ʼn Mosie is Vrydag goedgekeur om te begin met die proses om Mkhwebane te verwyder. Haar termyn as OB is gekenmerk deur verskeie voorvalle waar die howe skerp kritiek op sommige van haar bevindings gelewer het.

Modise het bevestig die mosie voldoen aan die vereistes vervat in die reëls en gesê dit beteken egter nie dat ʼn besluit al geneem is nie. ʼn Onafhanklike paneel van kenners moet nou saamgestel word en partye het tot 7 Februarie om nominasies in te dien.

Adv. Busisiwe Mkhwebane. (Foto: Twitter

Die paneel kundiges moet dan ’n voorlopige beoordeling doen en finaliseer. Dit sluit ’n uitnodiging aan Mkhwebane in om kommentaar te lewer op die inhoud van die mosie.

Ingevolge die reëls van die parlement, mag die paneel na eie goeddunke aan enige lid die geleentheid bied om relevante geskrewe of aangetekende inligting binne ’n spesifieke tydraamwerk aan hom voor te lê; sonder versuim afskrifte verskaf aan ʼn openbare ampsdraer van alle inligting wat aan die beoordelingspaneel beskikbaar is; die ampsdraer ’n redelike geleentheid bied om skriftelik te reageer op alle tersaaklike aantygings teen hom of haar; mondelinge verhore en die beoordeling daarvan beperk tot die toepaslike geskrewe en aangetekende inligting wat deur lede, of deur die ampsdraer, ingevolge hierdie reël voorgelê word; en moet in sy verslag enige aanbevelings insluit, insluitend die redes vir sodanige aanbevelings, asook enige minderheidsopvatting van enige paneellid.

Wanneer die paneel sy werk afgehandel het, moet ʼn verslag met bevindinge en aanbevelings aan die Nasionale Vergadering voorgelê word, waarna die Nasionale Vergadering sal besluit of met ʼn ondersoek voortgegaan sal word in die vorm van ʼn spesiale komitee van LP’s.

“Die Nasionale Vergadering en die reëls van die parlement bied beskerming teen enige risiko van magsmisbruik of onbillikheid, insluitend die ondersoekproses soos in die nuwe reëls uiteengesit,” het Modise gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.