‘Niks gaan haar terugbring’, sê ma ná uitspraak

Lizel Visagie (38).

“Wat ook al in die hof gebeur, dit gaan nie my kind terugbring nie.”

Marie Hamman (67) sê die skuldigbevinding van die man wat verantwoordelik is vir haar dogter, Lizel Visagie (38), se dood, bring nie enige berusting nie.

Khumbulani Malinga is verlede week in die streekhof in Middelburg, Mpumalanga, skuldig bevind op aanklag van strafbare manslag nadat hy Visagie doodgery het.

Visagie (38) het haar dogter, nou 17 jaar oud, in Maart 2019 uit die pad van Malinga se motor gestamp en die motor het haar getref. Hy was besig om vir die verkeerspolisie te vlug.

Malinga sal na verwagting op 15 November gevonnis word.

“Of hy tronk toe gaan of nie, dit gaan nie my Lizel’tjie terugbring nie. Sy is wreedaardig van ons af weggeruk. En nou kan die man aangaan met sy lewe en ons sit met die seer en verlies. Die mat is onder ons uitgeruk,” vertel Hamman.

Hamman het Malinga se verhoor bygewoon en wil ook nie die vonnisverrigtinge mis nie.

“Ek kan nie beskryf hoe dit voel om jou kind se moordenaar voor jou te sien staan nie. Ek weet net die trane het oor my wange geloop. ʼn Deel van my wou uit die hofbank opstaan en die man klap, maar ek weet dit sal nie die seer wegvat nie.”

Volgens Hamman het Malinga se regsverteenwoordiger in die hof aangedui dat hy oor sy dade berou het. Hamman glo egter nie hy is opreg jammer nie.

Hamman is ná byna drie jaar nog hartgebroke oor haar kind se dood en sukkel om die verlies te verwerk.

“Ná Lizel’tjie se dood is die lewe nie meer dieselfde nie. Die diepe hartseer gevoel gaan nie weg nie.

“Die band tussen my en Lizel was heg en onvervangbaar. Sy was ’n engel wat vir ons geleen is.”

’n Maand ná Visagie se dood het haar dogter, Hamman se kleindogter, by haar pa in Nieu-Seeland gaan woon. Dit was ’n dubbele slag vir Hamman. Sy het haar sedertdien nie weer gesien nie.

“Dit is nóg ’n kind wat ek verloor het. Ek het haar help grootmaak. Dit breek my hart om te dink ek kan haar nie weer ’n drukkie gee of vashou nie. En ek weet nie of ek haar ooit weer gaan sien nie.”

Malinga het die Visagies glo raakgery nadat hy na bewering vir die verkeerspolisie gevlug het. Hy is ná die voorval aangekeer, maar die saak is vertraag.

Nadat AfriForum se privaatvervolgingseenheid egter betrokke geraak het, is Malinga deur die NVG gedagvaar om in Maart 2021 in die hof te verskyn. Hy is verlede week eindelik skuldig bevind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Martie Smartie ·

Dis eintlik moord. Net soos met Oscar se saak toe die regter haar naam krater gemaak het, is hier nou weer ‘n landdros wat dit doen. Daardie beskuldigde moes die twee voetgangers gesien het en genoeg tyd gehad het om spoed te verminder en/of sy aksies te vermy. Hy het willens en wetens voortgegaan en ‘n persoon se dood veroorsaak. Dit is opset by moontlikheidsbewussyn op die heel minste. Dis voldoende vir moord net soos by Oscar. Die staat/ Afriforum behoort te appeleer, maar ek neem aan die aanklag op die klagstaat het tekort geskiet. Die hof moes nietemin ‘n uitspraak van skuldig aan moord gelewer het. Die skeidslyn tussen growee nalatigheid en opset by moontlikheidsbewussyn is hier duidelik en die hof moes die laasgenoemde bvind het. Veral omdat hy weg gejaag het vir geregsdienaars. Sonder twyfel moord hierdie.

AW ·

Snaaks hoe die mens “BEROU” , wanneer daar n Skuldig bevinding is,

Ek gaan so een keer of twee keer n maand na die plaaslike hof sit net daar ….

Kyk en luister…

Ander Wêreld dit wat gebeur in n Hof.

Frederik C ·

As AfriForum se privaatvervolgingseenheid nie gereeld inspring nie, kan die NVG ook maar toemaak.

Blomme ·

So so seer vir die Mamma. Sy gewete indien hy oor een beskik, sal wel sy straf wees. Kan net die pyn van hierdie Ma myself indink.

Di ·

Voel saam met die gesin! GEEN tronkstraf kan die pyn verlig waardeur familie en vriende moet gaan nie. Daar is SO baie gesinne in SA wat se geliefdes vermoor is, wat tevrede moet wees met ‘n paar jaar tronkstraf vir die beskuldiges. Geen geregtigheid geskied in SA wanneer dit by misdaad kom nie, “our people” word deur en deur beskerm, grootste rede waarom misdaad toeneem.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.