‘Niks gaan my kind terugbring nie’  

Maria Clarke by haar dogter, Angelique Clarke Abrahams. (Foto: Verskaf)

Twintig jaar agter tralies is veels te min vir die man wat haar dogter byna drie jaar gelede ten aanskoue van haar eie seun vermoor het.

Só het Maria Clarke, ma van die vermoorde Angelique Clarke Abrahams, die afgelope week aan Maroela Media gesê.

Carl Abrahams is Maandag is in die hooggeregshof in Oos-London gevonnis nadat hy verlede jaar aan die wrede moord op sy vervreemde vrou skuldig bevind is.

“Ek is verlig dat die hofsaak verby is, dit haal ʼn berg van my skouers af. Maar aan die einde van die dag gaan niks my kind terugbring nie.”

Clarke is ook nie tevrede met die vonnis wat haar voormalige skoonseun opgelê is nie.

“Hy moes meer jare in die tronk gekry het. Hy het ʼn lewe geneem en daarvoor moet hy vir die res van sy lewe agter tralies wees.

“Hy het ook nie net Angelique se lewe geneem nie, maar hul kind se lewe verwoes. Carl het ʼn kind agtergelaat wat vir die res van sy lewe gebroke gaan wees en sielkundige hulp nodig gaan hê.”

Clarke ly self sedert die voorval aan depressie.

Sy sê Abrahams het boonop nog nooit berou getoon nie. Sy was Maandag tydens Abrahams se vonnisoplegging in die hof, waar hy glo nie een keer ʼn poging aangewend het om met haar oogkontak te maak nie. Hy het ook nog nooit jammer gesê nie.

“Ek glo dit sou tog meer draaglik gewees het as hy opreg berou betoon het. Om dinge te vererger het sy regspan gevra dat hy ʼn ligter vonnis moet kry aangesien hy ʼn jong kind het wie se ma werkloos is. Hy het nie eers melding gemaak van hom en Angelique se seun nie. Hulle was net besorg oor die nuwe vrou en kind – sy was ook in die hof.”

Angelique Clarke Abrahams (25). (Foto: Verskaf)

Volgens Clarke het hy dié kind by ʼn vrou verwek toe hy ná Angelique se moord op borgtog vrygelaat is.

Maroela Media het vroeër berig dat Abrahams en Angelique se seun ten tyde van die moord maar ses jaar oud was. Clarke was destyds woedend toe Abrahams toegelaat is om sy seun te sien terwyl hy op borgtog uit was.

Die seun het vandeesmaand nege geword en is intussen deur Clarke aangeneem. Sy het ook twee ander kinders, ʼn seun wat binnekort 18 word en ʼn laatlammetjie van vyf.

Sy sê die negejarige kind het albei sy ouers baie liefgehad, maar vra nou nie meer na sy pa nie. Hy verlang egter nog baie na sy ma.

“Ons praat almal gereeld oor Angelique. Ek het ook ʼn Facebook-blad ter nagedagtenis aan haar geskep. Ons almal mis haar en ek sal alles in my vermoë doen om toe te sien dat haar nalatenskap voortleef.”

Clarke sê haar dogter het diep spore in baie mense se harte getrap en dat sy nooit vergeet sal word nie, juis omdat sy só geliefd was.

“Sy was baie betrokke in die Oos-Londen-gemeenskap en het baie liefdadigheidswerk gedoen. Baie mense was lief vir haar. Sy sou die klere aan haar lyf vir iemand anders gee indien hulle dit nodig gehad het. Dis die soort mens wat sy was.”

Clarke sê sy is uiters dankbaar vir die ondersteuning wat hulle as gesin sedert Angelique se dood ontvang.

“Soveel mense staan saam met ons en is daar vir ons. Daarvoor is ek baie dankbaar.

“Ons sal Angelique altyd in ons harte aan die lewe hou.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Onnie

Ek wed jou hy het haar nie vermoor toe hy die 1ste keer handgemeen geraak het nie. Hierdie tipe goed het n duidelike aanloop, maak oop julle oë. Ouers moet bewus wees met watter karakters hul dogters uitgaan en trou. Daar word te veel druk op meisies gesit om met mans te trou – waarna hulle verniel en in baie gevalle vermoor word. My ouma het altyd gesê jy moenie uit jou taal, jou kerk of jou politiek trou nie. Ouma was dalk reg.

Patrick

Ek is 0% boer maar ek is so bekommerd oor julle boere. Hier in Kanada niemand om gee, die ANC is die goedmense. Ek is jare en dit het my 42 jare om julle te ken. Arme Maria. God seen jy.

Althes

Sterkte vrou, my hart gaan uit na jou. Ek stem saam met jou dat hy meer jare tronkstraf moet kry.

Julia

Hy het n nuwe vrou en n kind by haar..Hoe de joos gaan jy in n verhouding met n man wat uit is op borgtog omrede hy sy vrou voor haar kind vermoor het??? HOE????