‘Niks gaan ooit my pa terugbring’

Dries Nieuwoudt (Foto: Verskaf)

Die skuldigbevinding van sy pa se drie moordenaars bring in ʼn mate afsluiting, maar niks wat met hulle gebeur gaan ooit sy pa terugbring nie.

Drie mans is vroeër die week in die hooggeregshof in Pretoria skuldig bevind aan die moord op Dries Nieuwoudt (75).

“Die finale afsluiting sal seker wees wanneer hulle gevonnis word,” het Andries Nieuwoudt, Dries se seun, gesê. “Die laaste twee jaar en ʼn paar maande was nie maklik nie – nie vir my nie, nie vir my ma nie, nie vir my kinders nie en my vrou moes ons almal bymekaar hou.”

Dries en sy vrou, Mariana, is op Maandag 21 Desember 2020 op hul plaas naby Hammanskraal aangeval, maar is eers die Woensdag te hulp gesnel nadat Mariana die deur van die badkamer waarin sy toegesluit was, kon oopbreek en hulp ontbied het. Dries het kort daarna gesterf.

Lawrence Makhubela, Jacob Maponyane en Cornelius Makatu is skuldig bevind aan die moord op Dries. Hulle sal eers later vanjaar gevonnis word.

“Dit gaan nooit die pyn wegvat nie. Dit gaan nie my kinders se vrae wegvat nie. Dit gaan nie my ma se nagmerries wegvat nie.

“Geregtigheid is ʼn baie swaar gelaaide woord – is dit regtigwaar geregtigheid wat geskied? Dis nie my plek om daai oordeel te vel nie. Hulle gaan eendag moet rekenskap gee vir wat hulle gedoen het.”

Volgens Andries lê daar nog ʼn moeilike pad voor. “Daar gaan nog baie trane en hartseer wees – op verjaarsdae, Vadersdae en Kersfees. Kersfees sal nooit weer dieselfde wees nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.