Niks kom van multi-miljoenrandse toerismeprojek

Gemeenskapslede by die terrein waar die projek opgerig sou word (Foto: Bernard Chiguvare, GroundUp)

Deur Bernard Chiguvare, GroundUp

Twaalf jaar nadat die departement van toerisme R9,3 miljoen bestee het aan ʼn ontwikkeling‑ en erfenisprojek naby Thohoyandou in Limpopo, het hulle steeds niks om vir dié geld te wys nie.

Die Tshakhuma-konferensie-ontwikkelingserfenis- en -toerismeprojek is in 2014 tot stilstand gebring omdat die diensverskaffer glo die fondse wanbestuur het. Die gemeenskap hoop iemand van buite sal nou inkom en die projek voltooi, aangesien die regering sê hy nie die projek gaan afhandel nie.

Die projek is in 2010 voorgestel en sou werk skep en toeriste na die gebied bring. Dit sou in totaal nagenoeg R28,5 miljoen beloop en sou behels dat die departement ’n konferensiesentrum en 20 kampeer-chalets oprig.

Die tradisionele raad het die grond by Goedverwachting-plaas naby die Tshakhuma-dam vir die projek aan die departement van toerisme toegeken.

Die departement het toe die maatskappy Been Around GP Advert and Consulting CC (BAGP) as diensverskaffer aangestel en R9,3 miljoen betaal om die projek te behartig.

Dié maatskappy het egter versuim om aan die kontrak te voldoen en glo die projekgeld wanbestuur. Daar is gevolglik ’n kriminele saak teen die diensverskaffer geopen.

Die departement van toerisme beweer hy het in 2014 met die Tshakhuma-gemeenskapstrust vergader en die trust ingelig dat die projek gestaak is hangende die saak teen die diensverskaffer.

Volgens Lesley Singo, wat vir nege maande aan die projek gewerk het, is ’n perseelkantoor gebou, die bosse op die terrein skoongemaak en ’n klein tydelike voetbruggie is opgerig.

Op ’n vraag watter werk gedoen is om ’n betaling van R9,3 miljoen te regverdig, het die departement aan GroundUp gesê dit was vir terreinopruiming, die aankoop van ’n bakkie, ’n yskas, sakke sement, en die betaling van ’n beplanningskonsultant en die opleiding van werkers.

GroundUp het die terrein op 9 April besoek. Dik bosse wat kwansuis uitgeskoffel was, het teruggegroei en ’n mielieland pronk nou hoog daar waar die terreinkantoor eens gestaan het.

Gemeenskap desperaat vir werk

Vir ’n ruk het die projek sowat 130 mense uit die gemeenskap in diens geneem.

“Die gemeenskap wag vir die projek,” het Joel Mulaudzi, ’n gemeenskapsleier, aan GroundUp gesê. Hy het gesê die ontwikkeling sal broodnodige werksgeleenthede skep en ekonomiese aktiwiteit vir plaaslike klein besighede en verkopers bevorder.

Osliy Nyamande, ’n gemeenskapsleier, sê ook die gemeenskap het sedert 2014 geen terugvoer van die departement oor die projek gekry nie.

“As die departement die projek permanent wil staak, moet dit ons toestemming gee om mense te kry wat die projek kan oorneem,” het Nyamande gesê.

Netshavhani Edson Ramadi, hoof van die Tshakhuma-gemeenskapstrust, sê ook hy hoop die projek sal herleef word om te help om werkloosheid onder die jeug te verminder.

“Ek sal enigiemand verwelkom wat bereid is om die projek oor te neem en by te dra tot die ontwikkeling van die gemeenskap.”

Intussen wag Singo en ander voormalige werkers in die hoop dat iemand eendag die ontwikkeling sal hervat.

GroundUp het navraag aan die departement oor die saak gestuur, maar wag nog vir terugvoer.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

22 Kommentare

jongste oudste gewildste
Pietertjie

Hulle hét iets om daarvoor te wys: Vet persoonlike bankbalanse, luukse huise, motors…

JohanR

Soe dis nou hoe die kaders hulle swart Range Rover Velars gekoop het. En daar dink ek hulle het vir hulle geld eintlik gewerk!

Johan

Hoekom is ek nie verbaas nie.

domheks

MOOI A N C = korrupte gemors!

marius

In plaas van toer bus koop hulle ‘n soustrein . Dit sal NOOIT verander nie .