‘Niks onmoontlik’ vir gestremde student

Anita Engelbrecht tydens haar gradeplegtigheid by die Universiteit Stellenbosch. Foto: Verskaf

Anita Engelbrecht tydens haar gradeplegtigheid by die Universiteit Stellenbosch. Foto: Verskaf

Sy is al haar lewe lank in ʼn rolstoel en moet daagliks talle ander fisiese uitdagings oorkom, maar danksy haar vasbeslote ingesteldheid en ʼn onblusbare lus vir die lewe het Anita Engelbrecht (22) vanjaar haar BCom-graad in Bestuursrekeningkunde by die gradeplegtigheid van Universiteit Stellenbosch (US) ontvang.

Anita, wat in Bellville grootgeword het, ly al haar hele lewe lank aan spastiese diplegie (dubbelsydige verlamming). Sy is op 28 weke gebore en het kort na geboorte suurstofnood ervaar. Dit het die deel van haar brein wat motoriese funksie beheer, beskadig en die spastiese diplegie veroorsaak.

Die diplegie bring talle uitdagings mee, soos dat sy net uit een oog op ʼn slag kan sien. Haar brein besluit self watter oog en sy kan dit nie beheer nie. Dit maak dit vir haar baie moeilik om te lees en beteken dat sy nie studiemateriaal twee of drie keer kan deurgaan nie, maar dit die eerste keer moet inneem en verstaan. Anita moes ook haar eksamens met die hulp van ’n skribeerder aflê, omdat sy baie stadig skryf.

Sy vertel sy het aanvanklik ingeskryf vir BRek, maar aan die einde van haar eerste jaar het sy na ʼn gesprek met haar dosent besluit om na BCom oor te skakel. Om ʼn geoktrooieerde rekenmeester te wees sou beteken dat sy kliënte moet besoek sonder om te weet of die omgewing daar rolstoelvriendelik is en op die ou end was BCom die regte besluit vir haar.

Anita Engelbrecht by haar ma, Liezel, haar pa, Jannie en haar broer, Janu. Foto: Verskaf

Anita Engelbrecht by haar ma, Liezel, haar pa, Jannie en haar broer, Janu. Foto: Verskaf

“Ek is so dankbaar teenoor die US se Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe wat my so ongelooflik tegemoetgekom het met alles. Hulle het vir my skribeerders gereël, vraestelle vir my vergroot en enigiets gedoen om my te help om die uitdagings van my studies te oorkom,” vertel sy aan Maroela Media.

Jy kan die vreugde in Anita se stem hoor wanneer sy sê dat sy nie net by US met ʼn graad wegstap nie, maar ook met ʼn tas vol herinneringe en lewenslange vriendskappe. “Ek het ʼn ongelooflike tyd by US gehad en as ek terugkyk, sal ek niks wou verander nie,” sê sy.

“Ek was deel van twee verenigings en het die afgelope twee jaar in Huis Russel Botman gewoon. Ek was deel van al die gewone studente-ervarings en dit is iets wat ek nooit sal vergeet nie. Om deel te wees van die lewe op die kampus, om saam met ander studente in die biblioteek te swot, om party oggende met behulp van ʼn karretjie saam met my vriende die berg te gaan uitstap, dit was alles deel van hierdie ervaring. Ek het altyd seker gemaak ek ruim tyd in om hierdie soort goed ook te doen, want dit is die dinge wat ek eendag gaan onthou.”

Anita saam met haar beste vriendin, Lizené Symington. Foto: Verskaf

Anita saam met haar beste vriendin, Lizené Symington. Foto: Verskaf

Sy sê sy het in die afgelope paar jaar ʼn hele paar lewenslesse ook geleer, maar sy is nou meer as ooit oortuig niks is onmoontlik nie. “Ons is so geneig om te kyk na wat iemand nié kan doen nie, eerder as om te fokus op al die moontlikhede en potensiaal. My boodskap aan ander is dat jy nie deur jou omstandighede gedefinieer word nie,” sê sy.

“Ek dink nie aan myself as gestrem nie, maar eerder ‘anders vaardig’. Ek moet soms maar net ander maniere kry om goed te doen, maar daar is geen rede hoekom ek dit nie kan doen nie. Jou gesindheid bepaal of iets vir jou ʼn bedreiging of ʼn geleentheid gaan wees. Alles wat ek is, is net genade.”

“En een laaste ding,” sê sy en glimlag. “Ons is geneig om altyd so gejaagd te wees dat ons die belangrike dinge in die lewe miskyk. Onthou, daar is altyd tyd vir ʼn koffie.”

Anita is tans besig met haar honneursgraad deur UNISA. Sy en Hilton Murray, ’n medelid van die Bellville-atletiekklub wat haar in ’n spesiaal-ontwerpte waentjie stoot, beplan om vanjaar vir die tweede keer aan die Comrades-marathon deel te neem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Elna Erasmus ·

Baie geluk met jou puik prestasie, ek bewonder jou.

Ons dogter is ook ‘n diplegie Ansune het ook haar Honneursgraad in Internasionale Handel verbonde aan NWU ontvang.

Ek bewonder hulle vir hulle deursettingsvermoë.

Ek weet ·

Sjoe dis ongelooflik. Mense kan by jou en jou gesin iets leer.

Baie geluk.

Trish ·

Van skooltyd af was jy al n inspirasie vir jou mede leerders. Niks was ooit te moeilik of onmoontlik vir jou nie. Voorspoed met jou toekoms en ons almal weet jy sal n sukses maak van wat ookal jy aanpak, want jou gesindheid is reg.

Christa ·

Dit wys weer eens : waar ‘n wil is ‘n weg!!! Als van die beste vir jou vorentoe, Anita!!! Jy’s ‘n STER!!!!

Berenice ·

Inspirerend en wonderlik om ‘n slag sulke nuus te lees in ons samelewing van vandag.Baie trots op jou Anita!

w ·

Fantasties Anita. Jy is n voorbeeld vi baie. Sterkte op jou pad vorentoe. Klink na n baie positiewe meisie

Marie Cloete, Stellenbosch ·

Hallo Anita,
Ek is die ma van ‘n volwasse seun wat as ‘n spastiese diapleeg gediagnoseer (nalatigheid in hospitaal).
Ek wil jou gelukwens met jou graad. Ek is eintlik glad nie verbaas oor jou prestasie nie. Ek het geleer dat die meeste gestremdes ongelooflike durf, moed en deursettingsvermoe het.
Carpe diem ….. pluk die dag!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.