‘Niks verkeerd met waterkanon by Sassa-kantoor’ – Opod

(Argieffoto)

Deur Liezl Human, GroundUp

Die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod) het bevind dat die polisie hom nié aan wangedrag skuldig gemaak het toe ʼn waterkanon vroeër vanjaar gebruik is om begunstigdes van die Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid (Sassa) uiteen te jaag nie.

Maroela Media het vroeër berig die polisie se eenheid vir openbare orde het in Februarie met ’n waterkanon op begunstigdes buite die Sassa-kantoor in Bellville losgetrek nadat hulle na bewering nie sosiale afstand in die toue gehandhaaf het nie. Die polisie is skerp hieroor gekritiseer.

Opod het egter onlangs in ’n verslag bevind dat die polisie geen ander manier van ingryping tot sy beskikking gehad het as om die skare, wat geweier het om uitmekaar te beweeg, uiteen te jaag nie.

Die verslag word egter nie goed ontvang nie en die Wes-Kaapse wetgewer dring daarop aan dat iemand verantwoording doen vir die gebruik van ’n waterkanon op “kwesbare landsburgers”.

Opod bevind in sy verslag dat geen klagtes oor beserings tydens die voorval ontvang is nie en dat die water spesifiek in die lug gespuit is en nooit direk na die skare nie. Die water is ook vir ’n kort tydperk in die lug gespuit.

Die verslag lui voorts dat ʼn Sassa-amptenaar aanvanklik wetstoepassers se hulp gevra het weens die amptenare se onvermoë om die skare te beheer. Begunstigdes het glo nie met die personeel van Sassa óf sekuriteit saamgewerk nie.

Die Wes-Kaapse provinsiale staande komitee oor maatskaplike ontwikkeling het egter die verslag as “skandelik” bestempel en gevra dat die polisie en Opod tot verantwoording geroep moet word.

Albert Fritz, Wes-Kaapse LUR van gemeenskapsveiligheid, het Opod in Februarie versoek om ondersoek na die voorval in te stel.

Fritz het intussen sy teleurstelling met die ondersoek in ’n verklaring uitgespreek en gesê dat iemand verantwoordelik gehou moet word vir die voorval. “Watter soort samelewing gebruik staatshulpbronne om kwesbare mense, Sassa-begunstigdes, so te behandel?

“Die verslag deur Opod toon blykbaar dat ons staatsinstellings dit toelaat,” het Fritz gesê.

Gillion Bosman, voorsitter van die Wes-Kaapse provinsiale staande komitee oor maatskaplike ontwikkeling, het op sy beurt in ʼn verklaring gesê die verslag is “is blind vir die stryd wat kwesbare inwoners elke dag in hierdie land voer”.

Bosman het nou versoek dat die saak tydens die volgende inligtingsessie met die polisie ter tafel gelê word en dat Opod ook teenwoordig moet wees.

“Dit is skandelik dat ons ʼn Opod-verslag het wat alle betrokkenes vryspreek van die gebruik van ’n waterkanon op kwesbare Sassa-kliënte. Minister Lindiwe Zulu was op die toneel toe dit gebeur het, en tog rol geen kop nie,” het Bosman gesê.

’n Storm het ná die voorval om Zulu, minister van maatskaplike ontwikkeling, losgebars oor bewerings dat sy tydens haar besoek aan die Sassa-kantoor in ʼn Casspir gesit het en toekyk hoe die begunstigdes met die waterkanon uiteengedryf word.

Lees GroundUp se oorspronklike berig hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

My Mening ·

Miskien moet die arme “weerloses” begin luister dan sal die tipe goed dalk nie met hulle gebeur nie…..

Carel ·

Miskien het die polisie besluit om die mense so bietjie skoon te was en te saniteer met die water. Mens weet nooit…

jzjz05 ·

Ek glo dat as die kwesbare mense hul gedissiplieneerd gedraê het en die beveelle nagekom het hulle nie sou nat geword het nie

Daleen ·

Ou gesegde “as jy nie wil hoor nie moet jy voel”…. Jammer die waterkanonne word nie meer gereeld op die EFF vandale gebruik nie…..

Jaco ·

Iets maak nou nie sin nie: die DA beheerde Weskaap provinsie sê die ANC beheerde polisie se optrede met die waterkanon was skandalig. Gewoonlik is dit mos andersom, waar die hoogheilige ANC “die rassistiese DA” se geringste foute as skandalig en rassisties beskryf. Hoe dan nou?

Mariana ·

Natuurlik sal hulle niks daarmee fout nie, hoe dan anders, maar dit was beslis nie reg nie. Wanneer ‘n klp betogers maak en breek gebeur niks, maar onskuldiges word gespuit. Kan ongelukkig nie met dit saamstem nie. As hulle besig was om geboue af te breek en voertuie te brand en ander skade aangerig het, ja spuit die hel uit hulle uit, maar nee hulle het nie bezerk geraak nie.

Klipkop ·

Die Kaapse papsakgebruikers moet ore kry. Die waterkanon het gehelp daarmee. Wat moes die bloubaadjies anders doen wat sou werk?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.