‘Niks vir die pad,’ vra SAB ná vakansiesterftes

(Argieffoto: stevepb/pixabay)

Suid-Afrikaanse Brouerye (SAB) het die daling in die sterftesyfer vir die pas afgelope Kersvakansie verwelkom, maar sê selfs meer kan gedoen word om die syfer verder te laat daal.

Die minister van vervoer, Fikile Mbalula, het Donderdag gesê altesaam 1 617 mense is tussen 1 Desember verlede jaar en 15 Januarie op die land se paaie dood. Dit is 72 slagoffers minder as in die dieselfde tydperk ʼn jaar tevore.

Voetgangers en passasiers bly die grootste slagoffers. Nagenoeg 40% van alle sterftes op die land se paaie in dié tyd was voetgangers, 34% was passasiers, 25% bestuurders en 1% was fietsryers.

SAB het ná die uitreiking van die syfers gesê hy steun die departement van vervoer se voorstel dat motoriste se bloedalkoholvlak nul moet wees as ʼn manier om die getal beserings en sterftes weens padongelukke te verminder.

Die koste van die Kerstyd-ongelukke beloof nagenoeg R168 miljard.

“Ons ondersteun alle pogings deur die regering om padgebruikers ten alle tye veilig te hou. Dit sluit in die voorstel dat drink-en-bestuur gestuit word deur ʼn 0%-alkoholvlakbeleid in werking te stel. Geen drankgebruik en bestuur nie, nie eens een glas nie,” het Zoleka Lisa, SAB-woordvoerder, gesê.

“Ons glo dat wanneer jy bestuur, jy glad nie moet drink nie en ons verbind ons daartoe om dié praktyk om die land se paaie te help stuit.”

Altesaam 1 617 mense is in die Kersvakansie op die land se paaie dood. (Argieffoto)

SAB het die afgelope vakansie ook sy “Niks vir die pad”-veldtog bekend gestel.

“Dit is nie ʼn eenmalige gebeurtenis of ʼn vakansieboodskap nie, maar iets waaraan ons wil hê mense heeljaar lank gehoor moet gee,” het Lisa gesê.

SAB is besig om sy vloot met dié nuwe slagspreuk te versier om verantwoordelike gedrag onder padgebruikers aan te moedig.

Die maatskappy sê hy weet talle padverwante sterftes kan toegeskryf word aan onverantwoordelike alkoholgebruik deur ʼn klein persentasie padgebruikers.

“Dit is vir ons ʼn prioriteit om padveiligheidsrisiko’s te verminder. Die gesondheid en veiligheid van ander is ʼn diep, persoonlike kwessie, maar dit begin vir ons by die meer as 5 600 SAB-werkers wat elke dag Suid-Afrika deurkruis.”

SAB sê hy werk reeds saam met departemente soos vervoer, die Padverkeerbestuurskorporasie (RTMC) en die metropolisie.

Die maatskappy het die afgelope jaar nagenoeg R5 miljoen bestee om vier alkoholbewyssentrums te vestig om dronkbestuurders te help vasvat. By dié sentrums kan wetstoepassers bloedalkoholtoetse doen. Die uitslae daarvan is toelaatbaar in ʼn hof en dit help om vinniger vervolgings in sulke sake te verseker.

SAB beoog om nóg sentrums later vanjaar in te rig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

11 Kommentare

jongste oudste gewildste
piper

hoe nou gemaak met vele medisynes wat hoe persentasies alkohol bevat. wat van dwelms en dagga.

Werner

Dink eerder daar was minder motors op die pad hierdie Desember

Rusty

ek is meer bekommerd oor die algehel wetteloosheid op die paaie. Ek ry elke oggend ‘n redelike afstand om my seun skool toe te vat. Dit is skrikwekkend om te sien hoe die verkeersreels dood eenvoudige geignoreer word.En daar is geen drank by betrokke nie. Verlede week het ‘n persoon my op die geelstreep aan die linkerkant probeer verby gaan op ‘n enkel pad en die vermetelheid gehad om vir my die hoeter te druk omdat hy nie kan verbykom nie en ek kan nie verder regs nie want dan is ek in die aankomende verkeer se pad. Om nie… Lees meer »

Andre C

En inwoners van plakkerskampe mag motoriste met klippe en rotse bestook met die doel om te dood

Deloris

Kyk nou hoe hap SAB na lug Bubbels..
My gedorie kyk weer na die %. Wil jy nou vir my se…. Nul nul gaan die pad sterftes nog meer verminder.
Soos reeds genoem deur mense… Onpadwaardige voertuie, voet gangers, die taxi bestuurders, verontsgsame pad reels moet ek nog aangaan. SAB gaan terug drawing board toe.