‘Niks vir die pad,’ vra SAB ná vakansiesterftes

(Argieffoto: stevepb/pixabay)

Suid-Afrikaanse Brouerye (SAB) het die daling in die sterftesyfer vir die pas afgelope Kersvakansie verwelkom, maar sê selfs meer kan gedoen word om die syfer verder te laat daal.

Die minister van vervoer, Fikile Mbalula, het Donderdag gesê altesaam 1 617 mense is tussen 1 Desember verlede jaar en 15 Januarie op die land se paaie dood. Dit is 72 slagoffers minder as in die dieselfde tydperk ʼn jaar tevore.

Voetgangers en passasiers bly die grootste slagoffers. Nagenoeg 40% van alle sterftes op die land se paaie in dié tyd was voetgangers, 34% was passasiers, 25% bestuurders en 1% was fietsryers.

SAB het ná die uitreiking van die syfers gesê hy steun die departement van vervoer se voorstel dat motoriste se bloedalkoholvlak nul moet wees as ʼn manier om die getal beserings en sterftes weens padongelukke te verminder.

Die koste van die Kerstyd-ongelukke beloof nagenoeg R168 miljard.

“Ons ondersteun alle pogings deur die regering om padgebruikers ten alle tye veilig te hou. Dit sluit in die voorstel dat drink-en-bestuur gestuit word deur ʼn 0%-alkoholvlakbeleid in werking te stel. Geen drankgebruik en bestuur nie, nie eens een glas nie,” het Zoleka Lisa, SAB-woordvoerder, gesê.

“Ons glo dat wanneer jy bestuur, jy glad nie moet drink nie en ons verbind ons daartoe om dié praktyk om die land se paaie te help stuit.”

Altesaam 1 617 mense is in die Kersvakansie op die land se paaie dood. (Argieffoto)

SAB het die afgelope vakansie ook sy “Niks vir die pad”-veldtog bekend gestel.

“Dit is nie ʼn eenmalige gebeurtenis of ʼn vakansieboodskap nie, maar iets waaraan ons wil hê mense heeljaar lank gehoor moet gee,” het Lisa gesê.

SAB is besig om sy vloot met dié nuwe slagspreuk te versier om verantwoordelike gedrag onder padgebruikers aan te moedig.

Die maatskappy sê hy weet talle padverwante sterftes kan toegeskryf word aan onverantwoordelike alkoholgebruik deur ʼn klein persentasie padgebruikers.

“Dit is vir ons ʼn prioriteit om padveiligheidsrisiko’s te verminder. Die gesondheid en veiligheid van ander is ʼn diep, persoonlike kwessie, maar dit begin vir ons by die meer as 5 600 SAB-werkers wat elke dag Suid-Afrika deurkruis.”

SAB sê hy werk reeds saam met departemente soos vervoer, die Padverkeerbestuurskorporasie (RTMC) en die metropolisie.

Die maatskappy het die afgelope jaar nagenoeg R5 miljoen bestee om vier alkoholbewyssentrums te vestig om dronkbestuurders te help vasvat. By dié sentrums kan wetstoepassers bloedalkoholtoetse doen. Die uitslae daarvan is toelaatbaar in ʼn hof en dit help om vinniger vervolgings in sulke sake te verseker.

SAB beoog om nóg sentrums later vanjaar in te rig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

piper ·

hoe nou gemaak met vele medisynes wat hoe persentasies alkohol bevat. wat van dwelms en dagga.

Werner ·

Dink eerder daar was minder motors op die pad hierdie Desember

Rusty ·

ek is meer bekommerd oor die algehel wetteloosheid op die paaie. Ek ry elke oggend ‘n redelike afstand om my seun skool toe te vat. Dit is skrikwekkend om te sien hoe die verkeersreels dood eenvoudige geignoreer word.En daar is geen drank by betrokke nie. Verlede week het ‘n persoon my op die geelstreep aan die linkerkant probeer verby gaan op ‘n enkel pad en die vermetelheid gehad om vir my die hoeter te druk omdat hy nie kan verbykom nie en ek kan nie verder regs nie want dan is ek in die aankomende verkeer se pad. Om nie eers te praat van stop strate nie. Die mense gaan nog steeds gesuip bestuur. Maak nie saak wat julle die alkohol vlakke maak nie. Sit eerder op plekke en hou die motoriste dop vir nakoming van die reels.

Domkop ·

Stem saam met jou. In elk geval sal geen nuwe wette die land meer red nie.

Andre C ·

En inwoners van plakkerskampe mag motoriste met klippe en rotse bestook met die doel om te dood

Deloris ·

Kyk nou hoe hap SAB na lug Bubbels..
My gedorie kyk weer na die %. Wil jy nou vir my se…. Nul nul gaan die pad sterftes nog meer verminder.
Soos reeds genoem deur mense… Onpadwaardige voertuie, voet gangers, die taxi bestuurders, verontsgsame pad reels moet ek nog aangaan. SAB gaan terug drawing board toe.

HC ·

Stop verwysing as Alkohol se veroorsaak..
Daar is ook veroorsaak:
* Spoed limiet oorskry
* Onwettig Taxi’s en karre
* Geen rybewyse lesensie
* Te moeg en vaak om te bestuur
* Geen diens voor langpad ry nie
* Bande en brake was te stomp
* Geen verkeers / polisie op die pad kyk nie
* Dagga gerook voor op die pad ry.
* Dwelms gebruik voor op die pad ry.
* Kinders was te stout / baklei in die kar

Dit kan baie verskillende wees wat dit veroorsaak is om te ongeluk en sterwe.

se maar net ·

En wat van die dronk voetgangers wat blindelings voor jou kar in val en nie loop nie?

charmaine ·

As ons gaan kyk hoe baie ongelukke het helder oordag gebeur met mense wat oppad was of teruggekeer van vakansie dit is spoed en roekelose bestuur en onwettige verby gaan van motors en trokke.
Ek dink ook nie meeste was agv drank nie, want ons weet jy wil nie in n sel op eindig nie.
Voetgangers 34% want hulle slinger of hardloop oor die pad. En nogals op snelwee. En ja, n rooi lig beteken vir my stop vir taxi’s en ander motors is dit n “go sign”.

Lou ·

Ek stem saam daar is baie oorsake vir die hoë ongeluk – en sterfte syfer in SA. Alles in die kommentare hierbo en dan ook korrupsie met uitreik van lisensies en onpadwaardige voertuie wat op die paaie toegelaat word solank die verkeersman/vrou ‘n paar rand in die sak kry, dra by.
Maar ek dink die SAB se aksies is ‘n goeie beginsel wat uitgebrei moet word na ander Maatskappye toe ook. As vervaardigers begin verantwoordelikheid neem vir die gebruik en misbruik van hulle produkte kan dit ‘n positiewe uitwerking hê. So bv. behoort vervaardigers van kragtige motors te sorg dat die kopers opgelei word om die voertuie behoorlik te kan bestuur en beheer. Die K53 toets en in baie gevalle sommer koop van ‘n lisensie is nie goed genoeg om iemand toe te rus om ‘n voertuig te bestuur wat 250km/h kan haal en in 6 of 7 sekondes van o tot 100km/h kan versnel nie. Die vervaardigers maak meestal groot winste uit die verkoop van hulle produkte en behoort daarvan terug te ploeg om te verseker dat die kopers weet hoe om die produkte verantwoordelik te gebruik. Of dit nou drank, motors, krag gereedskap of medisyne is, die beginsel bly dieselfde.

JohanR ·

En miskien kan die lang distansie taxi bestuurders nie 48 uur agter ‘n stuurwiel spandeer nie?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.