NK-onteieningslys ‘desperate verkiesingstaktiek’

Theo de Jager is die voorsitter van Saai. Foto: Verskaf.

Die nuwe landbou-organisasie Saai het gesê hy is geskok oor die blatante vergrype deur die ANC in die Noord-Kaap, wat ’n lys van 30 plase bekend gemaak het om vir onteiening sonder vergoeding te teiken.

Dit herinner ongemaklik baie aan die Zimbabwiese grondgrype sedert 2000 – polities‑gekonnekteerde kaders identifiseer enige plase na hulle smaak, waarna ervare en internasionaal mededingende grondeienaars en produsente sonder vergoeding van hulle plase afgeboender is, het dr. Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai, gesê.

“Die ANC praat reeds sedert Desember 2017 met ’n gesplete tong oor onteiening. Terwyl president Ramaphosa in New York en Davos aan die internasionale beleggersgemeenskap die versekering gee dat eiendomsreg hier veilig is, was daar nog nooit ’n verduideliking hoe minister Maite Mashabane van landelike ontwikkeling en grondhervorming die Akkerland-plaas in Limpopo onregmatig teen ’n kwart van markwaarde onteien het nie.”

’n Vennootskap tussen AfriForum, Limpopo Landbou, Solidariteit en TLU-SA het dié onteiening suksesvol omgekeer en kostebevele teen die minister, die grondeisekommissaris en die registrateur van aktes laat instel.

Deshi Ngxanga, provinsiale sekretaris van die ANC, het aan Jacaranda FM gesê die provinsiale uitvoerende komitee van die party het verlede week vergader en die kwessie van grondonteiening sonder vergoeding bespreek. Hy het gesê die uitvoerende komitee het plase geïdentifiseer wat onteien kan word.

Volgens Ngxanga sal hulle egter wag vir die amptelike proses om artikel 25 van die Grondwet te wysig om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak waarna hulle die proses wil bespoedig. Ngxanga het intussen ʼn lys van sowat 30 plase op Twitter bekend gemaak wat glo geoormerk is vir onteiening sonder vergoeding.

De Jager meen die ANC in die Noord-Kaap se uitreiking van die lys van 30 plase wat vir onteiening sonder vergoeding geoormerk is, plaas ’n reusevraagteken oor die integriteit van die ANC se leierskap, asook die party se interne bevelstruktuur.

“Dié omstrede lys, tesame met ANC Noord-Kaap se verklaring daaroor, is ook met ambassades bespreek – verskeie van Suid-Afrika se vernaamste handelsvennote het reeds hulle kommer uitgespreek oor die ANC se vertrapping van die eiendomsklousule (artikel 17) van die VN se Verklaring van Menseregte.”

Nicol Jansen

Nicol Jansen, president van Agri Noord-Kaap, het intussen gesê die lys is nie ʼn amptelike lys van enige departement in die Noord-Kaap nie. Hy het gesê die politikus wat die lys versprei, gebruik dit as verkiesingspropaganda.

“Dit is belangrik dat ons moet weet wat is ons regte in die omstandighede. Hierdie lys maak dit dan regtig ook baie moeilik vir landbou om die welwillendheid te behou ten opsigte van grondhervormingsaksies wat tans in die Noord-Kaap is en tans binne landbou plaasvind.”

Volgens Jansen is dit ironies dat die meeste van die plase wat op die lys verskyn reeds suksesvolle bemagtigingsprojekte het.

De Jager het gesê hierdie optrede plaas egter verdere druk op die president se kantoor, en sy adviesraad oor grondhervorming, om in die reine te kom met die morele vraagstukke oor grondhervorming, en te verduidelik hoe dit billik of regverdig is om van ’n individuele grondeienaar te verwag om die rekening vir ’n nasionale verantwoordelikheid te betaal.

“Saai is juis gestig om alle organisasies en partye wat boere in só ’n situasie kan bystaan, in ’n netwerk saam te snoer. Saai nooi landbou-unies, sakestrukture, burgerlike organisasies en partye wat oor ’n breë front ’n bydrae kan lewer om ongeregtigheid te stuit, om saam te werk. Saai sal geen steen onaangeroer laat om die betrokke grondeienaars by te staan nie, en hoop om ander landboustrukture ook te betrek.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Andreas ·

Dit is nou hoe Cyril Ramaphosa die mense agter hom mobiliseer, die belofte van grond is besig om uit te kring. Ons sal sien of Cyril, as hy die president bly, hom na die tyd hieruit kan wikkel. Ek het idee dit gaan in die volgende maand en ‘n half eskaleer. Maar ek dink hy is rustig, want hy weet die boere gaan dit in die hof beveg.

Koos de Meyer. ·

Hulle gaan nie net ons grond wat ons voor betaal het vat nie. Ons is nie Zimbabwe nie.

Waarheid ·

Los niks op die plase vir die aasvoels nie.
Ook nie boorgate of gesonde grond nie.

Gerhard ·

Grondhervorming wat onteiening sonder vergoeding insluit is hier om te bly. Die Kaders toets die water om te sien hoever hulle kan gaan en sodra die wal bars sal daar geen einde wees aan grondgryp nie

Marcelle Coertze ·

Dankie vir di inhoud wil graag onbevooroordelde kommentaar ontvang sodat ek ingelig kan bly.

Stripes ·

As hulle plase onteien sonder vergoeding of net beset, wel, ek is nie ‘n rooimier nie maar ek kan baie vinnig een word as dit dan nou moet.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.