Nkandla-besonderhede kan Zuma in gevaar stel

Pres. Jacob Zuma se privaat woning in Nkandla, KwaZulu-Natal Foto: @power987news, Twitter

Pres. Jacob Zuma se privaat woning in Nkandla, KwaZulu-Natal Foto: @power987news, Twitter

Die bekendmaking van inligting oor die veiligheidsstrukture by pres. Jacob Zuma se Nkandla-woning kan hom in gevaar stel, volgens hofdokumente wat by die hooggeregshof in Pietermaritzburg ingedien is.

Sodanige bekendmaking sal “baie sensitiewe maatreëls aan die lig bring wat die lewens van president Zuma en sy familie in gevaar sal stel”, voer Mziwonke Dlabantu, direkteur-generaal van die departement van openbare werke, in die dokumente aan. Dlabantu het gesê die dokumente is deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens en die weermag saamgestel en dat dit geklassifiseerde inligting bevat.

Die saak hou verband met die spesiale ondersoekeenheid (SOE) se siviele eis teen die Nkandla-argitek Minenhle Makhanya. In die hofdokumente word aangevoer dat Makhanya ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting aansoek kan doen om toegang tot die dokumente te kry.

Die SOE het op 11 Augustus ʼn siviele eis van R155,3 miljoen teen Makhanya ingestel. Die SOE voer aan dat Makhanya die omvang van die werk vergroot het deur items te ontwerp en goed te keur wat nie vir veiligheidsdoeleindes was nie. Volgens die SOE is meer as R68 miljoen aan diensverskaffers betaal vir werk wat nie met veiligheid verband gehou het nie en wat nie deur die polisie en weermag voorgestel is nie.

Die SOE voer aan dat die departement van openbare werke glo aangebied het om Makhanya aan te stel as hoofagent van die Nkandla-opgraderings, maar dat die aanstelling onwettig was aangesien dit nie deur ʼn tenderproses voorafgegaan is nie.

Thuli Madonsela, Openbare Beskermer, het in Maart verlede jaar in ʼn verslag oor Nkandla bevind dat Zuma en sy gesin onbehoorlik gebaat het by die opgraderings en dat hy ʼn gedeelte daarvan moet terugbetaal. Volgens die verslag is Makhanya R16,5 miljoen betaal vir sy aandeel aan die projek.

Die SOE voer aan die beste manier om die verkwiste staatsgeld te verhaal, is om dit van Makhanya te eis. Dit is in teenstelling met Madonsela se verslag wat bevind het Zuma is aanspreeklik.

Klik hier vir alle vorige berigte oor Nkandla.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

J Blom ·

Na bewering in mediaberigte wou sy vrou hom vergiftig en hulle is bekommerd oor n heining!
Soos gewoonlik is prioriteite n grap.

anet ·

Ek het geen simpatie teenoor Zuma nie. Hy moet maar goed oor sy skouer kyk. Dit wat jy saai sal jy maai, wat jy uitdeel sal jy ontvang.

scalla ·

As jy jou uitgee vir n toffie gaan jy gelek word, hom en sy gesin in gevaar stel, ek dink hy is sy eie gevaar met so klomp vroue.

Ghost ·

Al waar oor Zuma worry is om hom self en se familie/vriende te veryk. Hy is nie die titel President werd nie. Miljoene mense se tax ens word verhoog om die skuld van die land te betaal, maar die President en sy kabinet vermors biljoene rande met onodige uitgawes, self veryking en korupsie.
Veiligheid wat in die verslag voor kom is nie die punt nie, hulle probeer die korupsie en vermorsieng van die belasting betaler se geld toesmeer.

Leeutjie ·

Ghost ek het ook die gevoel gekry dat hulle nou met hierdie inligting na vore kom om die bedrog vry te spring. Die tyd stap nader om te berig oor Nkantla en nou kom die trawante uit met “gevaar” ens. Ek byt nie lekker aan die storie nie. Hulle probeer toesmeer en hulle motiewe is deursigtig!

Paul ·

Die groot skelm probeer nou een van sy bende voetsoldate te offer om sy eie bas te red. Swak, baie swak.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.