Nkandla: Hý is die sondebok, sê SOE

Pres. Jacob Zuma se woning in Nkandla, KwaZulu-Natal

Pres. Jacob Zuma se woning in Nkandla, KwaZulu-Natal

Die spesiale ondersoekeenheid (SOE) het bevind dat pres. Jacob Zuma verryk is deur staatsgefinansierde opknappings by sy huis in Nkandla, maar beskuldig die argitek vir die verlies van miljoene omdat die projek tot “onaanvaarbare uitspattigheid” verhef is.

Die SOE het gesê sy ondersoek dui daarop dat die staat ongeveer R155 miljoen verloor het en talle persone, insluitend Zuma en sy gesin het voordeel getrek deur die direkte toedoen van Minenhle Makhanya.

“Die bewerings is gegrond, die president en sy gesin is verryk,” het die waghond-eenheid in ʼn verslag van 245 bladsye aan die parlement gesê.

Thuli Madonsela, die Openbare Beskermer, het in Maart in haar verslag bekend gemaak dat Zuma onregmatig voordeel getrek het uit verbeterings aan sy huis in KwaZulu-Natal.

Madonsela het aanbeveel dat Zuma ʼn gedeelte van die koste moet terugbetaal, maar die SOE het in sy verslag beslis dat Makhanya die geld moet terugbetaal. “Makhanya het onder andere die omvang van die werk vergroot deur items te ontwerp en goed te keur wat nie vir sekuriteitsdoeleindes was nie,” het die SOE in die verslag gesê. Die koste van die projek het dus van ʼn aanvanklike beraamde R27 miljoen na R216 miljoen verhoog.

Die SOE het gesê hy moes besluit of die verliese wat die departement van openbare werke gely het, van ʼn groep mense verhaal sal word wat verryk is, of om die hele bedrag van Makhanya te verhaal. “Ons het op laasgenoemde besluit,” het die SOE gesê.

Die SOE het verduidelik dat indien die geld deur individuele eise verhaal word, sal dit slegs beperk word tot die monetêre waarde van die voordeel wat die persoon uit die projek getrek het, en dit sal minder wees as die ware verliese wat die departement gely het.

Die SOE het op 11 Augustus in die KwaZulu-Natalse hooggeregshof ʼn siviele eis van R155.3 miljoen teen Makhanya ingestel en het ʼn reeks hoëprofiel-prokureurs aangestel om die saak te hanteer.

Die SOE-verslag is ʼn week gelede aan Zuma oorhandig en hy het Donderdag ʼn afskrif daarvan aan die parlement oorhandig. Die president het Donderdag ook ʼn brief aan Madonsela geskryf waarin hy aanvoer dat hy nie haar aanbevelings hoef goed te keur nie. Madonsela het hom vroeër daaraan herinner dat hy nog nie op haar verslag reageer het nie.

ʼn Parlementêre ad hoc-komitee sal nou die verslag van die SOE, Madonsela se verslag, die bevindings van ʼn inter-ministeriële span en Zuma se reaksie bestudeer.

Ondanks die geld wat reeds spandeer is, het die SOE in sy finale paragrawe van die verslag bevind dat veiligheidsmaatreëls by Nkandla steeds nie voldoende is nie. “Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) moet so gou as moontlik die veiligheidsituasie hersien.”

Zuma het in Desember aan die SOE die mandaat gegee om ondersoek in te stel oor wat by Nkandla gebeur het. Die SOE het egter sewe maande lank nie toegang gehad tot die eiendom nie. Die verslag ontken ten sterkste dat daar enige politieke inmenging was ten gunste van Zuma.

Die SOE het gesê ʼn omstrede voorval in dieselfde tyd toe Madonsela haar verslag vrygestel het en die status van die SOE se ondersoek van “afgehandel” na “ondersoek duur voort” verander is, was nie doelbewus nie, maar die gevolg van miskommunikasie en ʼn onervare personeellid.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.