Nkandla-komitee gevra om Zuma te dagvaar

Pres. Jacob Zuma se woning in Nkandla, KwaZulu-Natal

Pres. Jacob Zuma se woning in Nkandla, KwaZulu-Natal

Die parlement se ad hoc-komitee oor die Nkandla-skandaal het Dinsdag ANC-LP Cedric Frolick as sy voorsitter aangekondig, te midde van versoeke van die opposisie dat pres. Jacob Zuma geroep moet word om verantwoording te doen oor uitgawes by sy privaatwoning.

Mmusi Maimane, parlementêre leier van die DA, wou by Frolick weet of die komitee die vermoë het om ʼn dagvaarding uit te reik en gesê die komitee moet in só geval by sy volgende vergadering besluit wie voor die komitee moet verskyn.

Julius Malema, leier van die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF), het Maimane se versoek ondersteun. “Julle kan nie die tydskedule bespreek sonder om te bepaal wie gedagvaar gaan word om voor die komitee te verskyn nie, aangesien dit die tydskedule sal beïnvloed,” het hy gesê. Hy was egter meer kras toe hy met verslaggewers gepraat het: “Zuma moet hierheen kom. Die grootste boef moet verantwoording kom doen.”

Die ANC en Frolick het egter volgehou dat dit voortydig is om te oorweeg om enigiemand te roep voordat hy oor verskeie verslae rakende die Nkandla-projek van R246 miljoen beraadslaag het.

“Die vraag oor wie gedagvaar moet word is nie iets wat mens net opstel soos ʼn inkopielys nie,” het Mathole Motshekga, die voormalige ANC-hoofsweep, gesê. “Mens oorweeg die verslae en die verslae sal self ʼn aanduiding gee oor die behoefte en dan word besluite daarvolgens geneem.”

Zuma het onder skoot gekom nadat hy versuim het om te reageer op Thuli Madonsela, die Openbare Beskermer, se aanbeveling om ʼn gedeelte van die geld, wat aan Nkandla spandeer is, terug te betaal.

Malema en Maimane, wie se partye Madonsela teen die ANC verdedig het, het gesê sy moet ook voor die komitee verskyn. Malema het gesê hy wil weet of haar verslag bevind het dat die president nie die parlement mislei het, toe hy ontken het dat staatsgeld aan sy privaatwoning spandeer is nie. “Ons dink sy het koue voete gekry,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Martie ·

Ek stem, hy moet elke sent terug betaal. Daar is soveel arm mense wat deur sy slinkheid nogsteeds in ellende sit. Dan!!!! wonder ek, hoekom stem hulle elke keer vir dieselfde man wat hulle besteel. Hy dink hy is onsienbaar en niemand kan hom skade doen nie maar ek weet daar is ‘n Regverdige Vader in die Hemel wat so duidelik waarsku teen die goed. Melema se mond is so groot, hy moet maar agter die deur soek en kyk of hy nie ook daar staan nie. Ons bly in ‘n wonderlike land, ek kon net nie altyd besef dat ek my lewe lank gewerk het en skierlik ontplof hier rykdom om my los maar ek kannie die kar koop waarmee hy ry of in die huis bly waar hy bly nie. Danie Vader dit wat ek het is kontant betaal en ek kry elke dag genade van bo.

Assie ·

Ek het ook al dikwels gewonder hoekom die mense wat steeds aan die kortste ent trek, herhaaldelik vir die pary stem wat nie instaat is om sy verkiesingsbeloftes na te kom nie, en toe tref dit my: die massas stem met hul emosies, nie met hul verstand nie, en geslepe politici buit dit uit

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.