“Nkandla-komitee moet dadelik begin”

Pres. Jacob Zuma se privaat Nkandla-woning

Pres. Jacob Zuma se privaat Nkandla-woning

Die Vryheidsfront Plus (VF Plus) het Dinsdag gesê noudat die ANC sy sewe lede aangewys het vir die ad hoc-komitee wat die Nkandla-verslag moet bestudeer, moet die komitee dadelik met sy werksaamhede begin.

Dr. Corné Mulder, hoofsweep van die VF Plus, het gesê die komitee, wat uit twaalf lede gaan bestaan, se werksaamhede kan nie beperk word tot president Jacob Zuma se reaksie op die Nkandla-aangeleentheid nie.

“Dit sal geen doel dien nie en dit maak ook nie sin nie, aangesien die president reeds reageer het deur te sê hy gaan nie gaan antwoord nie. Die VF Plus is van mening dat die volledige verslag van die OB voor die ad hoc-komitee geplaas moet word,” het Mulder gesê.

“Die OB behoort eerste die geleentheid gegun te word om haar verslag toe te lig, waarna die president en sy betrokke minister die geleentheid moet kry om in hul getuienis voor die komitee hul optrede te verduidelik. Indien nodig moet die spertyd van die komitee verleng word na 5 Mei sodat opgemaak kan word vir die tyd wat die ANC verspil het met die aanwysing van sy sewe lede,” sê dr. Mulder.

Die OB het onder meer bevind dat die president en sy familie onregmatig baat gevind het by die opgraderings van R246 miljoen rand by sy woning.

Lees ook:
ANC wys sy LPs vir Nkandla-komitee aan

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.