Nkandla-SMS: ‘Kommentaar, menings kan selde vals wees’

Pres. Jacob Zuma se privaat woning in Nkandla, KwaZulu-Natal Foto: @power987news, Twitter

Pres. Jacob Zuma se privaat woning in Nkandla, KwaZulu-Natal Foto: @power987news, Twitter

Die konstitusionele hof het Maandag in sy uitspraak rakende die DA se SMS waarin pres. Jacob Zuma daarvan beskuldig word dat hy staatsgeld gesteel het, gesê kommentaar en menings kan selde “vals” wees.

Die konstitusionele hof het drie verskillende uitsprake geskryf, met sewe regters wat ten gunste daarvan was dat die verkiesingshof se uitspraak tersyde gestel word – hoewel om verskillende redes. ʼn Verdere drie regters – Raymond Zondo, Chris Jafta en Monica Leeuw – het te kenne gegee dat hulle die appèl van die hand sou wys.

In ʼn gesamentlike uitspraak, wat deur regters Edwin Cameron, Coenraad Froneman en Sisi Khampepe geskryf is, is daar bevind kommentaar en menings kan selde “vals” wees. Regters Dikgang Moseneke en Jess Nkabinde het met dié uitspraak saamgestem.

“Kommentaar en menings kan gekritiseer word omdat dit onregverdig of onredelik is, maar selde omdat dit ‘vals’ is.” Volgens die uitspraak was die SMS ʼn uitdrukking van ʼn kommentaar of mening, aangesien dit ʼn interpretasie was van die Nkandla-verslag.

Regters Johann van der Westhuizen en Mbuyiseli Madlanga was dit ook eens dat die Verkiesingshof se uitspraak ter syde gestel moet word, maar vir ander redes. Van der Westhuizen en Madlanga meen die SMS het nie valse inligting bevat nie en dat dit om dié rede gepubliseer kon word.

Mmusi Maimane, parlementêre leier van die DA, het die uitspraak verwelkom en het weereens ʼn beroep gedoen dat Zuma verantwoordbaar gehou moet word vir die geld wat op die Nkandla-projek bestee is.

Die ANC het intussen gesê die konstitusionele hof se uitspraak is nie ʼn oorwinning vir die DA nie. “Dit is jammer dat die DA voortgaan met politiekery ondanks die feit dat die uitspraak ons mening ondersteun.”

Die ANC het in hofstukke aangevoer die SMS is ʼn vals feitelike verklaring en dat die DA geen reg het om valshede oor sy presidensiële kandidaat [Zuma] te publiseer nie.

Die DA het in Maart verlede jaar die SMS aan meer as 1,5 miljoen kiesers in Gauteng gestuur. “Die Nkandla-verslag wys dat Zuma jou geld gesteel het om sy huis van R246 miljoen te bou. Stem DA op 7 Mei om korrupsie te klop. Saam vir verandering,” het die SMS gelees.

Die SMS het gevolg op Thuli Madonsela, openbare beskermer, se verslag wat bevind het dat Zuma en sy familie onbehoorlik gebaat het by die R246 miljoen se opgraderings aan Zuma se Nkandla-woning in KwaZulu-Natal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

J.Z ·

Nkandla sal soos n klip om die nek van die ANC hang,al verdedig en ontken hul die waarheid en dit sal in die geskiedenis teen hul aangeteken word vir vedere geslagte om onhou te word .

Lillian ·

JZ, die mense, blank en swart In hierdie land is GATVOL vir jou, vat jou goed en gee pad!

Jy het gesteel en daarby kan jy nie verby kom nie, dis hoekom jy nou jou maer lyf so skaars hou!

Jou tjomme in die parlement sal vir jou skerm want so lank as wat jy op daai troontjie sit, kan hulle aanhou om ons land bankrot te steel (soos hulle by jou geleer het).

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.