Die CDP het gesê hy ondersteun die ministers in die veiligheidsgroepering se hofaansoek om die openbare beskermer se Nkandla-verslag aan hersiening deur die hof te onderwerp. “Dié hersiening sal eens en vir altyd beslis of die huidige bekleër van die amp van openbare beskermer onafhanklik is soos deur die grondwet vereis, en of sy ‘n vendetta teen die regering voer,” het ds. Theunis Botha, leier van die CDP, gesê.
“Ons het egter ‘n voorbehoud. Tot tyd en wyl die hof oor die saak beslis, sal dit uiters onvanpas wees om Jacob Zuma vir nog ‘n termyn as president in te huldig. Tegnies, tot dat die saak opgelos is, is daar nog geen uitsluitsel oor die integriteit en geskiktheid van Zuma om as president te dien nie. Ons doen daarom ‘n beroep op die parlement om ‘n tussentydse of waarnemende president aan te wys.”
Die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF) het intussen die ministers se besluit as ‘n ‘uitsteltaktiek’ bestempel. “… Wetend dat daar ‘n moontlikheid is dat die uitkoms van die parlementêre ad hoc-komitee se hersiening van die Nkandla-verslag kan lei tot ‘n mosie om die president te vervolg, wend die ministers hul nou tot ‘n onnodige en duur vertragingstaktiek,” het Mbuyiseni Ndlozi, woordvoerder van die EFF, in ‘n verklaring gesê.
Die DA het aangedui dat hy tans met sy regsverteenwoordigers konsulteer om moontlik as ‘n ingrypingsparty tot die geding toe te tree. James Selfe, leier van die DA se federale raad, sê die ministers se besluit is ‘n deursigtige geval van die uitvoerende gesag wat probeer om in te meng met die onafhanklikheid en onpartydigheid van ‘n instelling wat se magte onderskryf word in hoofstuk nege van die grondwet.
CDP, ons weet tog, dit sal nooit gebeur nie. Die sweep het geklap…