
Pres. Jacob Zuma se privaat woning in Nkandla, KwaZulu-Natal Foto: @power987news, Twitter
Thuli Madonsela, openbare beskermer, het verlede jaar in haar verslag oor Nkandla bevind dat Zuma en sy familie onbehoorlik gebaat het by die R246 miljoen se opgraderings by sy privaatwoning en dat hy ʼn “redelike gedeelte” daarvan moet terugbetaal. Zuma het Nhleko aangestel om te bepaal of hy ʼn gedeelte van die geld moet terugbetaal.
Nhleko het eerstens verwys na die onderskeie bevindings van die verskillende ondersoeke wat na die veiligheidsopgraderings by Nkandla gedoen is. Hy het gesê al die partye wat ondersoek ingestel het, was dit eens dat veiligheidsopgraderings wel nodig was.
Volgens Nhleko was Zuma se veiligheid die hooffokus tydens die opgraderings en kan daar nie ʼn bedrag daaraan gekoppel word nie. Hy het gesê dit is ongehoord dat inligting oor ʼn president se veiligheidsmaatreëls bekend gemaak word.
Nhleko het verder individueel aandag gegee aan spesifieke opgraderings wat volgens die openbare beskermer nie veiligheidsverwant was nie. Madonsela het verwys na die swembad (vuurpoel), veekraal, hoenderhok, besoekersentrum en die amfiteater.
Swembad
Nhleko het gesê die swembad is nodig indien daar ʼn brand ontstaan, aangesien daar ʼn probleem met waterdruk is en al die geboue grasdakke het. Daar is ook verwys na hoe lank dit die plaaslike brandweerstasie se personeel sal vat om by Nkandla uit te kom.
Die minister het toe ʼn video op ʼn groot skerm laat speel van ʼn sogenaamde “vuurpoel-demonstrasie” wat wys hoe mense water uit die swembad pomp en spuit terwyl ‘O sole mio’ in die agtergrond speel. Nhleko het gesê die swembad is dus ʼn veiligheidsnoodsaaklikheid.
Veekraal en hoenderhok
Nhleko het na die veekraal as ʼn “heilige plek” verwys. Die minister het toe weer ʼn video laat speel van ʼn “kenner” wat verduidelik het waarom die veekraal ʼn “heilige plek” is. Hy het ook gesê dit is belangrik dat die vee nie in kontak kom met die veiligheidsheinings en ander veiligheidstoerusting nie en dat die veekraal dus ʼn veiligheidsopgradering was. Volgens Nhleko sal die diere alarms laat afgaan indien hulle vrylik kan rondloop en sal dit ʼn bedreiging vir veiligheid inhou.
Met verwysing na die hoenderhok het Nhleko gesê die hoenders mag ook nie naby die veiligheidsheinings kom nie en dat die hok om dié rede gebou is en dus ʼn veiligheidsopgradering is. Die minister het weereens ʼn video laat speel waarin daar gewys word hoe bewegingopsporing-kameras werk en hoe diere kan veroorsaak dat vals alarms geaktiveer word.
Besoekersentrum
Volgens Nhleko is die besoekersentrum strategies geplaas om veiligheid te verseker. Die sentrum word volgens hom gebruik om “beweging” te monitor en die president se gaste moet eers daar aanmeld. Hy het gesê daar is ʼn behoefte aan so ʼn sentrum vir die beheer en veiligheid van die president se vergaderings en dat die besoekersentrum dus ook ʼn veiligheidsopgradering is.
Amfiteater
Die president se woning is teen ʼn helling gebou en is daar ʼn groter risiko vir oorstromings tydens hewige reën, het Nhleko gesê. Daarom is keermure gebou en lyk die area nou soos ʼn amfiteater. Volgens Nhleko is die ander spesifieke doel van die amfiteater om as ʼn noodvergaderarea te dien.
Nhleko se verslag eindig met ʼn opsomming van die bogenoemde opgraderings en waarom dit veiligheidsverwant is. “Daarvolgens is die staatspresident dus nie aanspreeklik om vir enige van hierdie veiligheidskenmerke te betaal nie.”
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
59 Kommentare
Dis seker ‘n grappie…? Okay, ek was tot dusver nog redelik hoopvol, maar ek dink ons is nou AMPTELIK ‘n Piesangrepubliek.
Het enige iemand iets anders verwag? Sy korrupte kollegas sal hom tot die bitter einde beskerm. Die slegte ding is ons sal aanhou betaal vir die korrupsie en kan niks daar aan doen nie. Hulle sal bly lag !!! ”Nkandla‚ Nkandla‚ Nkandla’ … he he heh!
Ek het lanklaas so ‘n boel nonsens gelees! Zuma het sekerlik die minister van polisie ‘n ietsie in die hand gestop. Intussen werk my hele huishouding ons alies af vir nkandla!!!!
Ek hoor die lot se uitslae van hulle IK-toetse het uitgekom.
Almal is negatief
Mnr Nhleko, jy is veronderstel om ‘n opgeleide persoon te wees. Glo jy regtig die snert wat jy wil hê ons moet glo? Sjoe ek het lanklaas so lekker gelag. Jy maak my dag.