Nkandla-uitspraak: Howe het beperkte magte

grondwethof

Foto: Gnatj.com

Hoewel die Nkandla-uitspraak in sekere opsigte ʼn waterskeidingsaak vir Suid-Afrika was, gaan dit nie ʼn onmiddellike ommekeer in die gehalte van die land se regering of die politieke speelveld beteken nie.

Dit is die mening van dr. Llewellyn Curlewis en prof. Koos Malan, die sprekers by die Vereniging van Regslui vir Afrikaans (VRA) se seminaar oor die konstitusionele hof se beslissing verlede week dat pres. Jacob Zuma ʼn gedeelte van die staatsgeld wat aan nie-sekuriteitsopgraderings by sy private Nkandla-woning bestee is, moet terugbetaal. Die hof het ook beslis dat Zuma sy presidensiële plig versuim het deur adv. Thuli Madonsela, die openbare beskermer (OB), se verslag en aanbevelings te ignoreer en boonop daarin gefaal het om die grondwet te onderhou.

Volgens Malan, ʼn professor in publiekreg aan die Universiteit van Pretoria, het die uitspraak eintlik baie meer gedoen om Suid-Afrikaners oor rasse- en partypolitieke grense heen te verenig. “Die breë burgerlike samelewing voel verontreg. Daar word in die algemeen gesê dat ons nie wanordelikheid sal toelaat en in nog ʼn Zimbabwe verval nie. Hierdie kan die soort katalisator wees wat die burgerlike samelewing tot behoorlike optrede en samewerking kan saambind in ʼn poging om Zuma uit sy amp te laat onthef.”

Tog het Malan gesê hy verwag dat die Nkandla-beslissing ʼn betreklike geringe invloed op die komende munisipale verkiesing sal hê. “Die uitspraak was goed vir die EFF en die DA, maar ek dink die partye sal slegs daarin slaag om sekere streke by die ANC oor te neem tydens die verkiesing.”

Curlewis, voormalige president van die Prokureursorde van Suid-Afrika, meen hoewel die Nkandla-uitspraak weer eens die belangrikheid en regte van Hoofstuk 9-instellings soos die kantoor van die OB bevestig het, het dit eintlik meer vrae rondom die rol van Suid-Afrika se regstelsel geopper. “Waardeer en respekteer Jan Publiek nog die howe se uitsprake? Het die regstelsel nog legitimiteit. Ons weet dat die land se howe onder ernstige druk funksioneer, maar hierdie vrae word eerder oor die effekte van die howe se uitsprake gevra en of mense hulle nog daaraan steur. Die legitimiteitskrisis is ontstellend en gevaarlik want dit noop mense om reg in eie hande te neem. Gelukkig het hierdie saak dié vraagstuk ook tot ʼn mate aangeraak.”

Volgens Malan help die uitspraak met hoe korrupsie in die toekoms in die regstelsel hanteer word, maar dit gaan dit beslis nie opklaar nie. “Daar is ʼn wanopvatting oor wat ʼn hof kan doen. Dit is ongelukkig nie ontwerp om sistemiese probleme uit te wis of verandering te bewerkstellig nie. ʼn Politieke ingryping word hiervoor benodig, hetsy van die ANC self, of ʼn ander regering wat besluit om ʼn bepaalde rigting in te slaan.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Loeis ·

Die uitspraak was ‘n oorwinning vir die oppergesag van die reg. Zuma en wat dit hy moet terugbetaal is ‘n bysaak, en ‘n klein bedrag in vergelyking met die totale korrupsie in die land.

Die EFf en die DA se aansien het seker so bietjie gegroei, maar wanneer Zuma as ongewildste ANC leier – en dit is meesal BUITE die ANC! – eventueel uit is, gaan die ANC se steun en samehorigheid weer groei, al die Zuma se opvolger nog ‘n Zuma… Die politieke gevolge van die hofuitspraak is eintlik betreklik klein, maar die oppergesag van die reg kan veel sterker daaruit tree. Dit is nou as die uitspraak werklik gehoorsaam word en as die volgende OB asook alle regters slegs vir geregtigheid staan.

Nico K ·

Dit gaan sekerlik nie reuse veranderinge bring nie, maar ek is tog bly dat so iets nog in SA gebeur. Dit gebeur nie sommer in enige ander Afrika land nie. As ons van Zuma kan ontslae raak sal dit seker ‘n eerste in Afrika wees. Zimbabwe kon nie so iets reg kry nie.

Denise van Tonder ·

Suid-Afrikaners ons werk almal baie baie hard vir hierdie land. Zuma het by ‘n vorige geleentheid gesê dat hy die president van die land is en dat hy kan maak soos hy wil. Nou doen almal dit want hoekom dan nie. Die president doen dit almal kan dit dan doen. Maak regtig nie saak hoeveel mense seergemaak word nie. DIt is tyd dat ons saamstaan en korrupsie bekamp. Dit kan nie verder toegelaat word nie!! Dit is ons land hierdie waarop ons trots moet wees. Zuma is ook nie meer so hoogaangeskrewe onder sy eie mense nie daarom is dit nou tyd om in te gryp en saam te staan. Zuma sal moet gaan en dan maar al sy maatjies in die hoëgeplaasde stoele ook!! Dit is tyd dat Suid-Afrika nuut gemaak word met mens wat wil veg vir hulle land en ons erfenis!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.