Nkandla-verslag oorhaastig gedoen – Sisulu

Minister Lindiwe Sisulu. Foto: GCIS

Minister Lindiwe Sisulu. Foto: GCIS

Lindiwe Sisulu, minister van staatsdiens en administrasie, het haar twyfel uitgespreek oor of die openbare beskermer (OB) genoeg tyd aan die verslag oor opgraderings by Nkandla spandeer het, het The Star Maandag berig. Thuli Mandonsela, die OB, het aangekondig dat sy Woensdag die finale verslag sal vrystel. Die verslag gaan hopelik lig werp op die meer as R200 miljoen wat bestee is aan opknappingswerk by pres. Jacob Zuma se private woning by Nkandla in KwaZulu-Natal.

“Ek hoop Mandonsela se verslag is dan gereed,” het Sisulu gesê. “Ek hoop sy het haar ondersoek dan voltooi, want dit is ʼn grootskaalse ondersoek, en ek dink nie sy het haarself genoeg tyd gegun om dit behoorlik te doen nie.”

Sisulu het met die koerant gepraat tydens ʼn verkiesingsveldtog in Sasolburg die naweek.

Sy het aan die koerant gesê sy is neutraal oor enige van Mandonsela se ondersoeke.

“Ons sal sien as die verslag bekendgemaak word. Ons sal konkrete bewyse moet hê voor ons dissiplinêre stappe kan neem teen beamptes wat dalk aan enige misdrywe skuldig bevind kan word,” het sy gesê. – SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.