Nkandla: Zuma was ‘nog altyd bereid om te betaal’

Pres. Jacob Zuma se privaat woning in Nkandla, KwaZulu-Natal Foto: @power987news, Twitter

Pres. Jacob Zuma se privaat woning in Nkandla, KwaZulu-Natal Foto: @power987news, Twitter

President Jacob Zuma se prokureur het gesê sy kliënt was nog altyd bereid om ʼn gedeelte van die openbare geld terug te betaal wat aan opgraderings by sy huis in Nkandla spandeer is, indien ʼn behoorlike bepaling gedoen kan word oor wat hy die staat skuld.

Michael Hulley het gesê ʼn skikkingsooreenkoms wat Zuma in die konstitusionele hofsaak gemaak het oor Nkandla, was in lyn met dit wat die president nog die heeltyd volgehou het, in die lig van kritiek wat hy ervaar het dat hy “versuim het om die Openbare Beskermer se bevindings oor Nkandla te implementeer”.

“Daardie benadering is in ooreenstemming met dit wat in die president se beëdigde verklaring opgeneem is,waar hy dit duidelik stel dat hy die bevindings van die Openbare Beskermer sal aanvaar, en indien daar ʼn meganisme is wat kan bepaal wat die redelike kostes en gevolglik ʼn redelike bedrag, indien enige, is, sal die president dit betaal,” het Hulley gesê, volgens ʼn transkribering van ʼn onderhoud wat die presidensie Donderdag vrygestel het.

Hulley het bygevoeg, net soos Zuma vroeër vandeesweek, dat [Openbare Beskermer] Thuli Madonsela se verslag oor die R216 miljoen-opgradering nie enige bevinding het dat die president fouteer het nie.

“Daar was geen negatiewe bevinding deur die Openbare Beskermer wat die president aanspreeklik hou oor enige saak nie.”

Madonsela het bevind dat Zuma onregverdig voordeel getrek het uit ʼn projek waartydens ʼn swembad, veekraal, hoenderhok, amfiteater en ontvangssentrum met belastinggeld by sy huis aangebring is. Sy het aanbeveel dat hy ʼn redelike bedrag aan die staat moet terugbetaal, wat deur die Nasionale Tesourie en die polisiediens bepaal kan word, op die items wat nie as veiligheidsmaatreëls beskou kan word nie.

Zuma het dit in die hande van polisieminister Nathi Nhleko gelaat, wat bevind het dat elk van die vyf byvoegings inderdaad ʼn noodsaaklike veiligheidsdoel dien, en dat die president gevolglik nie enigiets vir die staat skuld nie. Nhleko se gevolgtrekking is met ʼn ANC-meerderheid deur die parlement gestoomroller, en die minister het gesê hy “hoop dit is die einde van die Nkandla-omstredenheid”.

Hulley het gesê Zuma se voorstel vandeesweek, dat die proses weer deur die ouditeur-generaal en minister van finansies herhaal moet word, is nóg ʼn poging om ʼn onafhanklike meganisme daar te stel “wat die hof sal bystaan indien nodig, om te bepaal wat die uitgawe was en wat die bydrae dan sal wees wat die president behoort te betaal”.

Die Demokratiese Alliansie het intussen Zuma se aanbod verwerp as nóg ʼn poging deur die president om af te wyk van dit wat Madonsela beveel het. Die party het daarop gewys dat Madonsela nie enige betrokkenheid deur die ouditeur-generaal versoek het nie.

Die Ekonomiese Vryheidsvegters het intussen ook gesê hy sal nie deel wees van enige ooreenkoms oor die Nkandla-saak wat nie die mag van die kantoor van die Openbare Beskermer bevestig of aan die Grondwet voldoen nie.

Julius Malema, leier van die EFF, het Suid-Afrikaners gemaan om volgende week Dinsdag, wanneer die saak in die konstitusionele hof voorkom, aan ʼn optog na die hof deel te neem.

Die volgende insetsel is deur eNuus vervaardig. Kyk eNuus elke aand om 19:00 op kanaal 144 en 145 op DStv.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Jan maak n Plan ·

Ja dis waar en gans bollie is fudge, ek sal dit glo maar ek gaan nie daaraan proe nie.

Jordaan ·

En hoe lyk dit met byvoordeel belasting op die verbeteringe wat deur die werkgewer betaal is? Dit is tog wat sal geld indien ons werkgewers namens ons sal betaal vir sekuriteit by ons huise. 41% van R250miljoen?

marianna ·

So nou verander die storie weer, tik my om met ‘n veer!!!

Elizabeth ·

Hulley lieg so namens Zuma. Hy word seker baie goed betaal of het Zuma iets op hom?

Manie ·

Zuma en sy Kaders wou nie ‘n sent betaal nie. Parralelle ondersoeke is kamsrig gedoen en toe het die Hoof van die Polisie gesê Zuma skuld niks. Daar m et die ondersoek geld van die belasringbetaler vermors Wie gaan dit terug betaal.
Hoeveel geld en kundigheid het verlore gegaan om hom te beskerm?

jonathan ·

Dit is nog n Zuma dans hy het die vermoe om uitlatings in sy guns te draai Speel met woorde en lag vir jou dis politiek

Liewe lulu ·

Malema nooi alle Suid Afrikaners om aan die optog deel te neem. Dankie maar nee dankie, ek dra nie rooi nie

m ·

Hy het dan so geveg vir sy onskuld. Dis maar die afgelope paar dae dat hy besluit het hy sal dit betaal. Die Guptas het seker maar besluit om dit vir hom te betaal vir al die gunsies wat hy nou al vir gedoen het. Die een hand was die ander hand.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.