‘Nkwinti se grondplan kan tot landswye arbeidsonrus lei’

Argieffoto Foto: led.co.za

Argieffoto Foto: led.co.za

Om 50% van landbougrond te onteien is ’n roekelose voorstel wat sal kan lei tot grootskaalse arbeidsonrus in die landbousektor, volgens die sakeregtewaghond AfriSake.

AfriSake sê die ANC-regering is besig om verwagtings te skep by plaaswerkers waaraan die regering nie sal kan voldoen nie. “Die gevolg hiervan is dat plaaswerkers se ontevredenheid kunsmatig aangevuur word. Minister Nkwinti se beleidsvoorstel het die potensiaal om die De Doorns-opstande tot nasionale vlak aan te blaas,” het Cornelius Jansen van Rensburg, AfriSake se uitvoerende hoof, gesê.

Hy sê Nkwinti se grondplan is deel van ʼn groter regeringstrategie om eiendomsreg in Suid-Afrika af te takel. “Indien Nkwinti se plan toegepas sou word, is daar niks wat soortgelyke beleid in enige ander sektor van die ekonomie sou kon keer nie. Elke werker in elke industrie sou regtens kon aandring op ’n 50% eienaarskap van hul werkgewer se bates,” het Jansen van Rensburg gesê.

AfriSake het reeds vroeër hierdie maand ‘n verslag bekend gestel waarin die risiko’s vir die toekoms van eiendomsreg uitgewys word. ‘n Vyfpuntplan vir die beskerming en bevordering van eiendomsreg is ook hierin vervat. Die sluit onder meer in:

1. Legitieme en ordelike grondherstel van individue wat eiendomsreg in die verlede verloor het, moet plaasvind;
2. Die idee en toepassing van transformasie moet in die visier moet kom;
3. Regsaksies moet van stapel gestuur word om die regsbeginsels van eiendomsreg te beskerm;
4. Persoonlike bates moet teen moontlike staatsvergrype verskans word; en
5. Politieke en ekonomiese druk moet op Internasionale vlak uitgeoefen word.

AfriSake het ʼn beroep op die landbou-unies gedoen om nie in hierdie saak vasgevang te raak in voorstelle wat hul lede se eiendomsreg sal beperk nie.

“Dit gaan hier oor baie meer as net landbougrond. Die unies behoort ʼn beginselstandpunt in te neem te word boere nie deur die regering afgepers mag word nie. Die belangrikste bly egter die organisering van burgerlike instellings wat op plaaslike vlak drasties moet toeneem. Sodoende kan genoegsame druk op die regering geplaas word en kan openbare steun vir eiendomsreg uitgebou word,” het Jansen van Rensburg gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Theresa ·

Hierdie mense kyk net so vêr as wat hul neuse lank is. Hulle dink nie aan môre nie………… Waar gaan alles tog eindig? Daar waar almal doodgaan van die honger………. Dan is dit ook die wittes se skuld.

Petrie ·

A democracy is nothing more than mob rule, where fifty-one percent of the people may take away the rights of the other forty-nine. – Thomas Jefferson

AmY ·

As die plaaswerkers 50% van die grond kry, moet hulle dan ook 50% van die skuld kry. Of is ek nou verkeerd?

Ek meen, hoe kan hulle 50% van die grond kry, maar die boer sit met die 100% skuld?

Gideon Erasmus ·

Elke persoon in SA behoort bekommerd te wees- gestel dit sou gebeur, dan gaan huisbediendes en tuinwerkers ook hulle deel eis van woonhuise. Pensioen, polisuitbetalings alles sal halveer word, want die geld is verdien onder omstandighede wat met uitbuiting van agtergeblewenes! Ek wens ek kon na my verstand luister en die land verlaat, en nie na my hart wat die land so lief het nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.