ʼn Groep van minder as 100 studente het Vrydag weer voor die ingang van die universiteit se Noord-kampus betoog. Hulle was gewapen met klippe en stokke en het betoog te midde van ʼn sterk polisieteenwoordigheid. Studente het buitebande gebrand terwyl die polisie en private veiligheidsbeamptes toegekyk het.
Die NMMU is die afgelope drie weke heeltemal gesluit weens #FeesMustFall-betogings, maar Donderdagaand het die universiteit in ʼn verklaring gesê dat lesings Maandag hervat sal word. Dit word gedoen in die hoop dat studente steeds hul 2016 akademiese jaar sal kan voltooi.
Nathi Dwayi, studenteverteenwoordiger van die #FeesMustFall-beweging, het Vrydag gesê die betogende studente stel nie meer belang om met die universiteitbestuur gesprekke te voer nie. Die studente is ongelukkig omdat die universiteit nie eers die saak met hulle bespreek het voordat daar aangekondig is dat klasse Maandag hervat sal word nie.
“Daar is geen belangstelling meer om met die bestuur te onderhandel nie en Maandag sal ons seker maak hierdie universiteit bly gesluit,” het Dwayi gesê.
Gemoedere het hoog geloop toe Kobus Gerber, voorsitter van die nuutgestigte Concerned Association for Parents and Others for Tertiary Education at Universities (Captu), by Vrydag se betoging opgedaag het. Die groep het vroeër die week gesê dat hy ʼn aanmaningsbrief aan die NMMU gestuur het waarin geëis word dat die universiteit heropen. Indien die universiteit nie aan dié oproep gehoor gegee het nie, sou die groep ʼn dringende hofaansoek gebring het om die instansie te dwing om lesings te hervat.
Tydens Vrydag se betoging het die gelyk asof Gerber in ʼn woordewisseling is met prof. Eugene Straeuli, ʼn NMMU-dosent. Straeuli het opgedaag om die betogende studente se eis vir gratis onderrig te ondersteun. Die studente was ooglopend ongelukkig met Gerber se teenwoordigheid en was openlik vyandig teenoor hom terwyl hulle geskree het dat hy moet loop.
Verskeie NMMU-studente en -personeellede het by die betoging aangesluit en plakkate omhoog gehou om hul steun te toon. Straeuli het gesê die personeel staan in solidariteit saam met die studente. “Ons is hier om aan die regering te sê dat befondsing vir hoër onderrig nie strook met die jaarlikse CPI-indeks nie. Statistieke toon dat befondsing verminder het terwyl studiegeld toegeneem het,” het hy gesê.
Hy het gesê almal by die NMMU wil hê dat klasse hervat moet word, maar dat dit nie “ten alle koste” gedoen kan word nie.
Zandile Mbabela, NMMU-woordvoerder, het gesê die universiteit hou by sy besluit om klasse Maandag te hervat.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
27 Kommentare
dit is hoe ons land se geleerde mense optree ? moontlike leiers ? SWAK !
Waarvoor moet die betogende dtudente geraadpleeg of in kennis gestel word dst die universiteite met klasse voortgaan. Behoort dit aan hulle? Arrogante houdinkies. Daar sit meer agter hierdie storie…..heelwaarskynlik politiek-gemotiveerd deur julle-weet-wie die land onregeerbaar wil maak.
“Spite yourself”
Ek het nooit die geleentheid gehad om verder te kon studeer nie. Maar terwyl julle afbrand dit wat julle moet help, werk EN leer ek met die hulpbronne wat tot my beskikking is. Ek mag dalk nog nie ‘n graad hê nie maar ek bou aan ondervinding en kennis.
Dit gaan nie daar stop, volgende eis hul gratis verblyf met 3 gebalanseerde maaltye per dag.