NMMU-studente sluit by #FeesMustFall-betogings aan

Studente betoog op die kampus van Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit (NMMU). Foto: Twitter via @Sparkey13

Studente betoog op die kampus van Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit (NMMU). Foto: Twitter via @Sparkey13

ʼn Klein groepie studente van die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit (NMMU) in Port Elizabeth het Dinsdag voor die hoofingang van die kampus betoog en paaie versper.

Studente het die ingang by die verkeersirkel in Universiteitsweg in Summerstrand versper en ʼn buiteband in die middel van die pad aan die brand gesteek. Die NMMU-studenteraad het gesê hy sal die universiteit tot stilstand dwing uit protes teen Blade Nzimande, minister van hoër onderwys, se aankondiging dat universiteite self oor die verhoging in studiegeld vir 2017 kan besluit.

Die NMMU-betoging is net een van vele studentebetogings wat Dinsdag weens die #FeesMustFall-kwessie op kampusse regoor die land voorgekom het. Die studenteraad het in ʼn verklaring gesê daar is dringende kwessies wat dadelik deur die universiteit opgelos moet word, onder meer dat studente wat toegelaat word om hul studiegeld af te betaal, se skuld afgeskryf moet word en dat hulle toelae gegee moet word.

“Die studente voel dat die minister se aankondiging nie aandag gee aan die probleme wat studente tans in die gesig staar nie. Ons almal stem saam dat die armes en studente wat nie vir beurse deur die nasionale finansiëlehulpskema kan aansoek doen nie, maar ook nie self studiegeld kan bekostig nie, deur die stelsel uitgesluit word. Ons kan slegs bevry word deur gratis en kwaliteit onderrig vir hierdie studente.”

Die DA-geleide SR het gesê ʼn massavergadering sal gehou word en ʼn memorandum van eise sal met die studente bespreek word. Die NMMU-bestuur het ook Dinsdag ʼn vergadering met studente gehad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Alida ·

My kleinkind studeer by NMMU. Hulle lewens word bedreig deur die barbaarse optrede. Waar is ou Blade nou?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.